Die Robertson Rangers-rugbyklub het die afgelope naweek in ’n vriendskaplike wedstryd kragte gemeet met Young Hamiltons van Worcester.

Die ervare stutte van Rangers was goeie kompetisie vir Hammies se debutantstut Darren Williams, wat sy man deeglik teen die meer ervare stutte van Rangers gestaan het.

Hammies het die opwindende wedstryd op Van Zylstraat-stadion met 42-24 gewen nadat die besoekers met rustyd 14-12 voor was.

Rangers het die telbord geopen nadat hul skrumskakel in die eerste 10 minute oorgegaan het. Die drie kon nie verdoel word nie en kort hierna het senter Gerchwin Alberts vir Hammies oorgeduik en heelagter Luciano Truter het verdoel. ’n Strafdrie word hierna aan Rangers toegeken na herhaalde druk op die Hammies doellyn deur die tuisspan toegepas word. Hammies gaan egter weer oor toe Truter deur ’n gaping sny en onder die pale oorgaan vir Ambrose Steyn(losskakel) om maklik te verdoel. Dit was ook die rustydtelling.

Ná rustyd druk Hammies hul derde drie toe hul nr. 6-flank oorbars en Steyn verdoel om sy span met 21-12 te laat voor loop. Rangers slaan egter onmiddellik terug toe hul regtervleuel ná ’n volle agterlyn beweging oorgaan en die drie verdoel word vir ’n 21-19 agterstand. Hammies word hierna met ’n strafdrie beloon ná die bal met ’n man oor afgeklap word met ’n oopdoellyn.

Plaasvervangerstut Irvin Malapi gaan hierna met brute krag oor en met die Steyn doelskop word die telling 35-19 vir Hammies. Truter raap hierna die bal ná ’n losgemaal op en hardloop die lengte van die veld, tot groot vreugde van die sowat seshonderd Hammies ondersteuners wat na Robertson gereis het, om onder die pale te druk en met die suksesvolle doelskop deur Steyn loop Hammies 42-19 voor.

Rangers gaan in die doodsnikke oor toe hul agsteman na ’n rolmaalbeweging druk. Die doelskop misluk egter en wedstryd word beëindig met die telling 42-24 vir Hammies.

Rangers se B-span klop Hammies met 17-7. Hammies se C-span is met 7-5 aan die wenkant.

You need to be Logged In to leave a comment.