YGH gee BRAM baie ‘goeie hoop’

ASHTON. – Bestuurslede en spelers van die Young Good Hope-rugbyklub (YGH) het Saterdagoggend (28 Mei) na die BRAM-sorgsentrum in Stasieweg gestap om persoonlike produkte soos doeke vir volwassenes, seep, toiletpapier, vrugte en dies meer te oorhandig


ASHTON. – Bestuurslede en spelers van die Young Good Hope-rugbyklub (YGH) het Saterdagoggend (28 Mei) na die BRAM-sorgsentrum in Stasieweg gestap om persoonlike produkte soos doeke vir volwassenes, seep, toiletpapier, vrugte en dies meer te oorhandig.

Dié sentrum is ’n mediese gerief vir pasiënte wat kronies en terminaal siek is.

Die BRAM-sentrum beskik oor 16 beddens waarvan 14 (80%) deur die Wes-Kaapse departement van gesondheid finansier word, en verskaf volgens die webwerf https://hospicebreederiver.org.za/services/bram-centre intermediêre sorg en ondersteuning aan pasiënte wat in die Langebergstreek woon.

Die groep rugbyspelers en bestuurslede het naby die Cogmans-kliniek bymekaar gekom en van daar af na die sentrum gestap.

Volgens Riyaard Jacobs, die afrigter van die Young Good Hope-rugbyklub, is dit “sulke goed waarmee hulle (die sentrum) sukkel”. Hy sê hul klub doen graag projekte om die behoeftes in die gemeenskap te steun.

“Ons doen sulke klein projekte as klub. Ons het laas gestap vir ’n rugbyspeler se kind, wat aan kanker ly, en geld ingesamel vir die kind se medikasie,” vertel die afrigter.

Sy span, wat in die Streekuitdaag-afdeling van die Boland-rugbyunie meeding, is volgens ’n nie-amptelike lys vierde op die punteleer.

Jacobs, die klubbestuur sowel as die spelers sê hulle wil op hierdie wyse hul dank en waardering toon vir die ondersteuning wat hulle van die gemeenskap tydens wedstryde en in die algemeen kry.

“Ons wil maar net ons burgerlike plig doen en in die gemeenskap terugploeg,” som Jacobs die klub se welwillendheidsgebaar kortliks op.

Met die oorhandiging van die produkte kon suster Anna-Marie Fortuin van die BRAM-sentrum die spelers nie genoeg bedank vir die skenking nie. Sy het juis gesê hul toiletpapier en doeke was op daardie tydstip gedaan.

“Ons het niks toiletpapier nie; geen doeke nie. En hier kom julle. Julle is regtig gestuur. Baie, baie, baie dankie. Ek het regtig gesê ek weet nie wat ons gaan doen nie. En hier stuur die Here vandag vir julle. So, regtig, baie dankie,” het ’n baie dankbare Fortuin gesê.

Sy het voorts die spelers sterkte toegewens en glimlaggend die hoop uitgespreek dat die klub sommer al sy wedstryde vorentoe sal wen.

Van die spelers wat haarkappers is, het ’n paar van die manlike pasiënte se hare gesny en hulle netjies gemaak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.