Wyndruifoes lyk belowend

’n Belowende wyndruifoes wag op die Swartland-streek.


’n Belowende wyndruifoes wag op die Swartland-streek.

Só sê plaaslike wynmakers in die omgewing wat reeds uitsien na vanjaar se parstyd.

Plaaslike wynkelders stem saam vanjaar se oes is met sowat tien tot 14 dae laat, maar is dit eens dat die tydperk tot parstyd aansienlik verkort kan word indien Moeder Natuur met ’n hittegolf intree.

Jacques Theron, senior wynmaker by Riebeek-kelders in Riebeek-Kasteel, sê hulle kan moontlik reeds vandeesweek met hul vroeër kultivar, naamlik muskadel, begin. Volgens hom sal hulle moontlik teen die einde van Januarie en vroeg in Februarie ten volle aan die oes wees.

Hy voorspel dat vanjaar ’n soortgelyke oes sal lewer as 2021, wat groot was. “Ons verwag ’n groot oes. Die tonnemaat lyk goed, veral in droëland-wingerde wat nie besproei word nie.” Hy sê dit kan toegeskryf word aan goeie reën gedurende die winter- en somermaande.

Pieter-Niel Rossouw, hoofwynmaker by Darling-kelders, sien ook baie daarna uit om binnekort te begin pars en is opgewonde om te sien wat dié seisoen inhou. Hy het verlede week gesê hul vroeë kultivars is tien tot 14 dae later as verlede jaar, hoewel die tydperk steeds van die weer afhang. Hy is veral optimisties oor die sauvignon blanc-, die shiraz- en die pinotage-kultivars. “Darling is meestal droëland, wat beteken die hoër reënval het gewis in ons guns getel,” voeg hy by.

Hoewel die oes groter lyk as verlede jaar, is hy huiwerig om enige voorspellings te waag aangesien enigiets nog kan verander.

Riaan van der Spuy, keldermeester by Swartland-wynkelder, voorspel op sy beurt die Swartland gaan een van die beste oesjare beleef.

Volgens hom lyk nie net die gehalte van die wyndruifkorrels goed nie, maar ook die hoeveelheid.

Die droëland-wingerd gaan ook volgens hom danksy goeie reënval baie goeie oeste lewer.

Produsente kan oor enigiets van tussen twee tot vier weke met parstyd begin, voeg Van der Spuy by.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.