’n Pionierwynboukundige wat sy loopbaan in die Robertson-streek begin het, en ook al plaaslik vereer is, het nog louere vir sy werk ingepalm.
Francois Viljoen, wat vir die afgelope 36 jaar as wingerdboukundige praktiseer, het die prys ontvang vir wingerdbou en wynskepping tydens die jaarliks Wynoesherdenking op die Kaapse wynlandgoed Groot Constantia.
Hy het ’n BSc-graad in wingerd- en wynkunde van die Universiteit Stellenbosch en ’n honneursgraad in landbouvoorligtingsdienste.
Die kriteria vir individue om vir hierdie prys in aanmerking te kom, sluit in die ontwikkeling van nuwe idees, tegnologieë en metodes binne die wynbedryf, die implementering en oordrag daarvan, die verandering van produsente se denkrigtings, en om Suid-Afrika se wynbedryf in die algemeen te bevoordeel.
Viljoen het sy loopbaan in 1986 as ’n junior wingerdboukundige voorligter in die Robertson- en Klein-Karoo-streek begin.
Voor hy in Julie 2019 as bestuurder van die Gen Z-wingerdprojek oorgeneem het, was hy vir 20 jaar die bestuurder van Vinpro se konsultasiediens waar hy ’n span wingerdboukundiges en grondwetenskaplikes gelei het.
Viljoen is in 2014 deur die Robertson-wynvallei met die gesogte Pon van Zyl-trofee bekroon vir sy uitstaande bydraes tot die streek en die breër bedryf. Viljoen verskaf deurslaggewende wingerdbou-advies en -insig aan wynprodusente regdeur die bedryf en dien in verskeie bedryfskomitees, -rade en -werksgroepe.
Op die Wynoesherdenking word die eerste wynoes in 1659 gevier en die seën ook op die nuwe oes gevra. Die ander pryswenners vir 2022 is as volg:
Carmen Stevens, die eerste swart Suid-Afrikaner wat toegelaat is om wynkunde te studeer, is vanjaar met die ikoniese 1659-eerbewys vir visioenêre leierskap vereer.
Die kriteria vir individue of organisasies om vir hierdie gesogte prys in aanmerking te kom, sluit in waarneembare pogings en inisiatiewe wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf bevoordeel het, iemand wat ’n blywende impak en nalatenskap gelaat het, en om ander in die bedryf aan te moedig en te inspireer.
Stevens het 25 jaar se ervaring as wynmaker. Sy het vir verskillende premie-wynkelders as wynmaker gewerk, voor sy Carmen Stevens Wines – die eerste 100% swart vroulike wynmakery – op Stellenbosch op die been gebring het.
Stevens maak nie net verskeie bekroonde wyne nie, sy dien ook in die Wyn-en-Spiritus-raad en direksie van die Suid-Afrikaanse Transformasie-eenheid. Sy glo ook daarin om terug te ploeg in die gemeenskap en jeugontwikkeling in die wynbedryf lê haar na aan die hart.
Denise Stubbs is die ontvanger van die prys vir diversiteit en transformasie.
Die kriteria om in aanmerking hiervoor te kom, sluit in om die weg vir ander te baan deur struikelblokke uit te skakel, ’n voorbeeld te stel en ander te inspireer, by te dra tot kennis wat vir ander van waarde kan wees, sowel as om ’n positiewe bydrae tot die algehele beeld van die Suid-Afrikaanse wynbedryf te lewer.
Stubbs het nog altyd daarvan gedroom om terug te gee aan haar gemeenskap en toe sy die geleentheid kry, het sy haar korporatiewe loopbaan agtergelaat en Thokozani saam met 65 landbouwerker-aandeelhouers gestig.
Stubbs is nou die besturende direkteur van Thokozani (wat “vieringe” in Zoeloe beteken) en het ’n deurslaggewende rol in die totstandkoming van die Thokozani Groep van Maatskappye gespeel. Die maatskappy is ’n breëbasis swart ekonomiese bemagtigingsinisiatief (BBSEB-inisiatief) wat wyn-, konferensie-, gasvryheids- en eiendomsakebelange insluit. Thokozani voer nou na sewe verskillende lande uit.
Die Kaapse Wynmeester Christine Rudman is bekroon met die prys vir erkenning vir wynwaardering en wynbevordering.
Die kriteria vir individue om hiervoor in aanmerking te kom, sluit in sigbare bydraes tot die beeld van wyn en die verantwoordelike gebruik daarvan, sowel as die uitbouing van die beeld van die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
Rudman het meer as vier dekades se ondervinding in die bedryf. Sy het van 1977 tot 1995 as wynhandelsmerkbestuurder en daarna as bemarkingsbestuurder vir Stellenbosch Boerewynmakery gewerk. Daarna was sy die hoof van die Kaapse Wynakademie en voorsitter van die Instituut vir Kaapse Wynmeesters. In 2015 is sy aangestel as tegniese direkteur van die internasionale wyn-en-spiritualieëkompetisie Michelangelo, waar sy vir nege jaar die enigste Suid-Afrikaanse beoordelaar was.
Sy het op internasionale panele oor Europa heen geproe en plaaslik het sy verskeie kompetisies beoordeel. Sy het ook sommelier-opleiding voltooi en Suid-Afrikaanse wyne internasionaal aangebied.