WKOD besorg oor boelie-video’s

Diep ontstellende beeldmateriaal van skoolkinders wat in beweerde boelie-voorvalle baklei, doen die ronde op sosiale media.


Diep ontstellende beeldmateriaal van skoolkinders wat in beweerde boelie-voorvalle baklei, doen die ronde op sosiale media.

Met dié video’s, wat soos ’n veldbrand op verskeie sosialemedia-platforms versprei, pleit die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) dat sosialemedia-gebruikers nie die video’s verder moet deel nie.

“Die WKOD het die afgelope week verskeie video’s ontvang van leerders wat mekaar glo binne en buite die skool aanval. Baie van die beelde is diep ontstellend,” sê Brent Walters, departementshoof by die WKOD.

“Die WKOD is in gesprek met elk van die skole wat geïdentifiseer kan word. Almal het bevestig dat die nodige tugprosesse in elke geval gevolg word en dat beradings- ondersteuning verskaf is.”

Walters meen die video’s beeld ’n groot gebrek aan menslikheid en deernis onder leerders uit.

Hy voel die verfilming, verspreiding en hoe die video’s verder aanlyn gedeel word, is skandelik.

“Dit is moeilik om te begryp wat ’n mens motiveer om ’n medemens aktief te verneder – veral ’n kind wat mishandel word.

“Enige leerder, ouer of versorger van ’n leerder wat deur so ’n mishandeling gegaan het, weet watter diepe pyn en trauma dit kan veroorsaak.

“Die verspreiding van die slagoffer se ervaring op sosiale media verhoog hierdie risiko’s verder.

“Ongelukkig het die verspreiding van hierdie video’s op sosiale media ’n algemene verskynsel geword – só erg dat dit by die WKOD aangemeld is dat ’n WhatsApp-kanaal geskep is wat aktief voorvalle plaas waarby leerders mishandel word.”

Walters dui daarop dat die verspreiding van boelie-verwante video’s “onherstelbare skade vir die beweerde slagoffers” veroorsaak en dat dit ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) onwettig is om sulke video’s te versprei.

“Die verfilming en verspreiding van hierdie video’s deur kinders en volwassenes, dra verder by tot die afknouery en mishandeling van die betrokke kinders.

“Hoewel die optrede van die boelie of misbruiker duidelik onaanvaarbaar is, is die optrede van die honderde of duisende mense wat die inhoud deel ’n aanduiding dat hulle daarvan hou, of selfs kommentaar lewer, en dit is eweneens skandelik.”

Walters sê die verantwoordelike ding om te doen wanneer jy sulke video’s ontvang of sien, is om te keer dat dit verder versprei word. Hy vra mense om sulke plasings te verwyder of by die betrokke platform aan te meld.

Hiervoor bevorder die WKOD die #StopTheShare-veldtog (#StopDieDeel) om mense verder aan te moedig om nie enige boelie-verwante inhoud, veral waarby kinders betrokke is, te deel nie.

“Die WKOD het ’n stel aanlyn video’s geskep om leerders en die algemene publiek te wys presies hoe om die #StopTheShare vir hierdie tipe skadelike inhoud [te gebruik].”

Walters beklemtoon dat die onlangse boelie-voorvalle ’n herinnering aan ouers en versorgers is dat gesprekke met hul kinders oor afknouery, mishandeling en sosialemedia-mishandeling uiters noodsaaklik is.

Intussen het die WKOD kontak gemaak met die inligtingsreguleerder en het ’n klag teen die WhatsApp-kanaal ingedien. Die departement het ook planne om die polisie te betrek.

  • Kontak die WKOD se Safe Schools-afdeling by 0800 45 46 47 indien jy as leerder, ouer versorger ondersteuning nodig het in hierdie verband.

Leerders of ouers kan ook die Suid-Afrikaanse Depressie-en-Angs-groep (Sadag) se 24-uur-hulplyn by 0800 12 13 14 of die selfdood-noodnommer by 0800 567 567 kontak indien hulle voel hulle het onmiddellike ondersteuning nodig.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.