Geskiedenis is Saterdag (5 Februarie), op die King Edward-sportterrein in Montagu gemaak toe Villagers Montagu en Roses United van Wellington die eerste keer om die Ivan Pekeur-wisseltrofee meegeding het.

Die tuisspan het dié geskiedkundige wedstryd naelskraaps 22-20 gewen en sodoende die eerste houer van die trofee geword.

Ondanks verskeie onsmaaklike voorvalle, wat die ritme van die wedstryd versteur het, was die spanne deurgaans in ’n titaniese stryd gewikkel. Beide spanne het hard ingeklim en geen genade betoon nie, ten spyte daarvan dat dit eintlik ’n vriendskaplike wedstryd was.

Teen rustyd was hulle gelyk met 12 punte elk op die telbord.

Daar was egter hopeloos te veel onnodige geniepsigheid onder sommige spelers. Dit, en ’n paar voorvalle van ongeoorloofde spel, het ’n effense demper op die amper feestelike atmosfeer wat geheers het, geplaas. Die skeidsregter, Habrey Philander, was genoodsaak om sy fluitjie oortyd te laat werk.

Hy het ’n ongekende aantal strafkaarte (7), geel en rooi, om die beurt uitgepluk en omhoog gehou ten einde die humeure te probeer kalmeer en ongedissiplineerde spelers aan te spreek.

Hoe dit ook al sy, dit was die tuisspan wat eerste bloed geruik het toe sy kaptein en agsteman, Ulfred Terblanché, ná ’n sterk skrum op die besoekers se doellyn vir ’n drie oorgeval het. Die doelskop deur Ashley Monck (losskakel), wat haastig moes skop nadat die bal twee keer van die skop-tee geval het, was mis.

Roses het sake egter baie gou weer gelyk gemaak toe sy linkervleuel, Roman Sameuls, in die regterhoek oor is vir sy span se eerste drie. Die losskakel, Willem Roman, se doelskop was mis en die telling 5-5.

Kort hierna het die besoekers die voortou geneem toe die toekantflank, Hillroy Baatjies, langs die linkerregoppaal ná ’n verwoede aanslag deur Roses oorgeduik het. Die doelskop deur Roman was dié keer tussen die pal deur en die telling het tot 5-12 vir Roses gegroei.

Net voordat die manne sou gaan asem skep ná 40 minute van inklim-rugby, is Roses se agterlyn in ’n onbewaakte oomblik oorhoeks betrap en Monck het deurgenael om sy span se tweede drie onder die pale te gaan druk. Handré Ontong, heelagter van die tuisspan, het seker gemaak die doelskop is in die kol om die spanne weer gelyk te laat trek (12 punte elk).

Toe die baie welkome blaaskans op die bloedige warm Saterdagmiddag uiteindelik aanbreek, was die spanne steeds gelyk (12-12).

Ná rustyd het Villagers op een tydstip met ’n hewige aanval vorendag gekom, maar Roses se verdediging was rotsvas.

Die besoekers het toe verdediging in aanval omgeskep en sy buitesenter, Jaywin Petersen, in besit van die bal gestel, en hy het dit in die linkerhoekie met ’n prag-drie afgerond. Die besoekers het met daardie drie weer die leisels oorgeneem met die telbord wat aangerol het na 12-17 in Roses se guns.

Die agterlyn van dié sesmalige Bolandse klubkampioen was deurgaans gevaarlik, maar hul spanmaats in die skrums het ’n baie moeilike dag op kantoor beleef. In dié faset van die spel was Sesduim, soos die tuisspan ook bekend staan, ene vuur en vlam.

Dit was juis ná nog ’n goeie skrum deur die tuisspan dat die plaasvervangervleuel, Charlton Fortune, in staat gestel is om sy span se derde drie – dié keer in die regterhoek – te gaan druk en sodoende die spanne die derde keer in die wedstryd gelyk te laat trek met die telling 17-17 nadat die doelskop mis was.

Kort voordat die eindfluitjie sou blaas, het Roses ’n stewige greep op die wisseltrofee gekry toe Keagan September (plaasvervanger) met ’n maklike strafdoel geslaag het ná ’n oortreding deur Villagers, wat span die derde keer laat voorloop het.

Die besoekers se ondersteuners het waarskynlik al in hul geestesoog gesien hoe hul span die trofee omhoog lig.

Die spanning was byna tasbaar in die lug, terwyl die uitslag op ’n mespunt gebalanseer was en die sand in die boonste deel van die uurglas besig was om vinnig minder te word.

Nadat spel hervat is, het die tuisspan vinnig tot binne die besoekers se kwartgebied gevorder, waar hy Roses in sy kwartgebied vasgepen en onder geweldige druk geplaas het. Dit het daartoe gelei dat die besoekers talle oortredings begaan en strafskoppe afgestaan het.

Villagers, wat die botoon in die skrums gevoer het, het egter verkies om te skrum eerder as om die strafskoppe te benut.

Uiteindelik het hierdie brawe besluit vrugte afgewerp en is hy vir sy konstante goeie skrumwerk beloon toe die tuisspan se plaasvervangerflank, Zaydon Petersen, in die doodsnikke oor Roses se doellyn bars. Die doelskop was mis, en die eindfluitjie het geblaas.

Met dié oorwinning herskryf Villagers Montagu die geskiedenisboeke deur die eerste trotse houer van die Ivan Pekeur-wisseltrofee te word.

You need to be Logged In to leave a comment.