Winterreën, wolkomberse, Weskussnoek en warm patats.
Sowaar as wat die wind in die somer aan die Weskus waai, sowaar het die koeler maande ook ’n unieke aantrekkingskrag.
Koue neuse, warm voete in wolsokkies, die reuk van boontjiesop in die kombuis, reën op die dak . .t. maak die winter ’n heerlike, sintuiglike ervaring.
En wat is dan nou lekkerder as koesterende kontreikos op ’n bibberkoue wintersdag?
In die maande wat nie ’n “r” in die naam het nie – Mei tot Augustus – loop die snoek dik aan die Weskus.
In Juniemaand vier Goedverwacht, die mooi Morawiese sendingdorpie naby Piketberg, dié voedsame vis uit die see se spens – Moeder Natuur se geskenk aan die mens.
Dink aan gebraaide snoek, gebakte patats en vars soetsuurdeegbrood met korrelkonfyt.
Dié is net ’n paar lekkernye wat by vanjaar se Snoek- en Patatfees op Goedverwacht, besoekers se smaakkliere op ’n Weskuswinter-avontuur sal neem.
Die fees vind vanjaar op 26 en 27 Junie plaas en benewens die ongelooflike gastronomiese trekpleisters, het die organiseerders ook ’n uithalervermaakprogram aanmekaar gesit.
Plaaslike, opkomende kunstenaars, sowel as musikante en sangers wat reeds die nasionale kollig geniet, sal hier kom optree en sluit onder andere in Hemelbesem, Q-base, Vuvu Khumalo, Jody Williams, Mark Matroos, Virgeniea Payne, Javigo en Ashley Pienaar.
Nog ’n hoogtepunt op die program is die Mejuffrou Snoek- en Patatfees-kompetisie wat vanjaar deur Badisa Piketberg aangebied word.
’n Naweekpas kos R100 per persoon en sluit albei danse en Saterdag se vertonings in. ’n Dagpas kos R60 en sluit toegang tot die terrein en vertonings op die Saterdag in.
Kinders onder 12 jaar betaal R30.
Die twee danse (Vrydag- en Saterdagaand) kos R30 elk en ’n snoek-en-patat-ete kos net R50.
Vir navrae of bespreking van stalletjies, bel Ju-wahn by 060 438 8866 of stuur ’n e-pos aan tourism@goedverwacht.com