Winter ook ’n tyd van innerlike groei

Winter het ons provinsie getref met ’n felheid wat ons nie verwag het nie. Alhoewel dit nie my geliefkoosde seisoen is nie, hou ek baie van hierdie seisoen omdat dit my die ongevraagde warm gloede, wat eie is aan my ouderdomsgroep, makliker laat beheer. Natuurlik is dit ook onbeskryflik lekker om jouself snoesig warm in…


Winter het ons provinsie getref met ’n felheid wat ons nie verwag het nie.

Alhoewel dit nie my geliefkoosde seisoen is nie, hou ek baie van hierdie seisoen omdat dit my die ongevraagde warm gloede, wat eie is aan my ouderdomsgroep, makliker laat beheer. Natuurlik is dit ook onbeskryflik lekker om jouself snoesig warm in jou bed op te krul as jy die reën so lekker daar buite hoor val. Warmwatersakke word nadergetrek en die aankoop van elektriese komberse en verwarmers laat ondernemings se verkoopsyfers die lug inskiet.

Maar hierdie seisoen het ook die manier om op baie ander vlakke van mens se lewe homself in te wurm. So baie mense sit vandag eensaam en alleen omdat lewensmaats deur die dood weggeneem is, of erger nog, deur die hardheid van ’n egskeiding van hul maat weggeskeur is. In so ’n geval is die winter (emosionele winter) baie, baie erger, want as jy deur winter gaan met jou maat by jou is dit soveel draagliker. Nou kan dit egter voel asof jy buite in die sneeu sit sonder enige beskerming of bedekking.

Kinders sonder ouers, ouers sonder kinders, mans sonder vroue, vroue sonder mans. Dit voorspel nie net winter nie, maar ook storms met ysige hael en ryp in die winde. Riviere oorstroom hul walle en neem met hulle saam al die opdrifsels en goed wat die vloei van die water blokkeer. Selfs die groei van bome, gras en plante kom tot stilstand en lyk dood. Ons mis die diertjies en voëltjies maar selfs hulle is in voorbereiding vir hul nuwe seisoen.

Maar alles is darem nie net negatief as dit by winter kom nie. Daar is een positiewe ding wat ons buite rekening laat. Terwyl die vrugteboom lyk asof ons dit maar kan uithaal en uitbrand, is sy wortels besig om dieper die grond in te dring. By die aanbreek van die volgende seisoen sal daardie “dooie boom” sterker geanker wees en gereed wees om ’n swaarder vrag te dra as die vorige seisoen. Die diere wat in hul winterslaap is, gaan met hernieude krag en ywer hul nuwe seisoen verwelkom.

As ons as mens onsself ook so kon sterker maak in ons winterseisoen, gedagtig aan ons lente wat op pad is, sal ons met vreugde kan deurbreek in ons nuwe seisoen.

Daar is een ding waaroor ons almal kan saamstem: Dit kan nie vir altyd winter bly nie. Laat ons nou maar loop met ons jasse, stewels, musse en serpe. Dit is gepas om dit nou aan te hê, maar so seker as wat die aarde draai, sal die seisoen ook verbygaan en sal die vreugde van ’n nuwe seisoen weer ons deel wees.

As daar nie ’n winter is nie, sal die hele kringloop van die natuur en seisoene chaoties wees. So tong in die kies gesê; dis selfs winter in die kerk ook. Gevra vir die ouderling hoe dit in sy wyk gaan, was sy reguit antwoord: “Dis winter in my wyk!” Meer as dit hoef hy nie te gesê het nie.

Winter is nie net die af-seisoen nie maar dis ook die seisoen wat jy jouself gereed maak vir die op-seisoen

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.