William klop kronkelpad ná pandemie vir groot rol

William Adams vertel sy maats al van kindsbeen af hy gaan eendag beroemd word. Nou, as ’n akteur in ’n Netflix-produksie, blyk sy woorde waar te wees.


William Adams vertel sy maats al van kindsbeen af hy gaan eendag beroemd word. Nou, as ’n akteur in ’n Netflix-produksie, blyk sy woorde waar te wees.

William (22) van Louwville is deesdae te vinde op die stel van ’n nuwe Suid-Afrikaanse fliek in Johannesburg, waar hy aan Kings of Queenstown werk.

Ná ’n lang dag op stel, wat 04:00 begin het, het William aan Weslander (susterskoerant van Gazette) vertel van sy jongste projek en hoekom hy eers meer van die wêreld wil sien voordat hy na die Weskus terugkeer.

“Daardie eerste dag op stel het alles so onwerklik gevoel. Die projek is weens die pandemie verskeie kere op die ys geplaas, en ek het soms maande niks van die span gehoor nie. Ek het regtig begin moed opgee, maar toe kom die oproep en ek moes binne dae op ’n vliegtuig wees,” sê William.

William het verlede jaar ’n rol in dié sokkerdrama losgeslaan, maar dit was nie ’n uitgemaakte saak nie. In Johannesburg moes hy eers aan ’n bootcamp deelneem om te verseker hy is fiks genoeg vir die rol. Met sy akteur-spiere was egter geen fout nie, want dié het William selfs deur die pandemie besig gehou met verskeie produksies op die planke.

Hy het verlede jaar die stuk Hostel Lights saam met Joshwin Dayson, Jason Olivier en Marunzo Thomas die lig laat sien. Saam het hulle self die toneelstuk oor die lewe in ’n seunskoshuis geskryf en opgevoer. Die produksie het die hoofprys by die Zabalaza-fees in Kaapstad gewen met ’n twee week lange lopie by die Baxter-teater in September as die prys.

Freddie Ruiters (23), ’n skoolvriend van William, sê hy onthou goed die dae toe hy en William saam liedjies geskryf en saam gerymklets het. “Ons was in dieselfde kerk ook. Hy het altyd gesê hy gaan eendag beroemd wees, en ek het geweet met sy kunstigheid gaan dit eendag gebeur,” vertel Ruiters.

Hy meen William se jongste rol moet gevier word aangesien hy ’n suksesverhaal is wat hy hoop ander jong mense sal inspireer. Ruiters meen ook juffrou Queenie Adams se ondersteuning en talente het ’n groot rol in William se sukses gespeel.

Juffrou Queenie, ’n onderwyser by Eden Primêr, is aan die stuur van die skoolkoor en bied ook drama aan. Op die vraag of haar seun sy talente van haar gekry het, lag Queenie terwyl sy sê: “Seker. Ons is saam maar so.”

Dit is juis Queenie wat voorgestel het haar seun skuif van die Hoërskool Weston na Schoonspruit Sekondêr in Malmesbury, waar groter fokus op kunste is. “William het as kind vir baie mense stil voorgekom, maar by die huis het sy sibbe hom altyd stilgemaak. Daar was hy vol stories en passie, en sy broers het altyd gekla hy wil nie sy mond hou nie,” vertel Queenie.

William se studies aan Northlink was ’n moeilike kronkelpad weens die Covid-pandemie en Queenie sê die finansiële druk om te betaal vir ’n jaar waarin geen klasse aangebied is nie, was ’n groot uitdaging. Sy meen egter sy sal dit weer deurmaak vir haar kind se droom.

William sê ten spyte van sy rol in die Netflix-produksie is sy droom nog nie ten volle bewaarheid nie. “My droomrol is ’n aksiefliek soos Training Day. Denzel Washington in daardie rol is uitstekend,” meen William.

Hy sê baie werk lê nog vir hom voor voordat hy sy eie Training Day-rol kry, maar intussen wil hy eers meer van die wêreld sien.

“Dit is so maklik vir mense om mekaar af te breek. Ek dink my gemeenskap kan by tye baie close-minded wees, maar ek sal nooit vergeet waarvandaan ek kom nie. As tiener het ek reeds besluit ek gaan nie toelaat dat ek deur euwels in my gemeenskap ingesluk word nie. Ek glo alles gebeur met ’n rede, en dit was nodig dat ek vir ’n tyd uit die gemeenskap moes gaan, maar ek glo dit is belangrik om terug te keer en ’n positiewe verskil te maak aan die plek waar jy vandaan kom.”

William werk in die stad van goud aan sy droom van kuns en roem.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.