Weskus-toerisme in samewerking met Wesgro en die Cape Tourist Guide Association het ’n groep toergidse en toeroperateurs vir vyf dae in die Weskus verwelkom met die doel om nuwe toerismeprodukte blootstelling te gee.
Covid-19 het verskeie toerismeprodukte tot stilstand gebring en daarom word verskeie bemarkings- en ontwikkelingsprogramme deur Weskus-toerisme van stapel gestuur om die sektor ’n hupstoot te gee.
Die toergroep se besoek het gefokus op die kultuur- en erfenisroete in die Weskus. Van die besienswaardighede tydens die Weskus-besoek het Diepkloof Rock Shelter, Weskus-fossielpark, !Kwa ttu, Sevilla-rotskuns en die Truitjieskraal/Matjiesrivier-reservaat ingesluit.
Volgens Heinrich Robertson, skakelbeampte by die Weskus-distriksmunisipaliteit, wat die groep toegespreek het, is dit ’n groot voorreg vir Weskus-toerisme om hierdie besoek te ontvang.
“Die nasionale inperking het ’n massiewe impak op die toerismebedryf en die plaaslike ekonomie gehad. Ons beskou die toerismebedryf as ’n groot dryfveer om plaaslike ekonomiese groei te bewerkstellig en daarom werk ons saam met verskeie agentskappe en rolspelers om so veel blootstelling as moontlik aan ons diverse en unieke streek te gee. Ons hoop dat julle met groot groepe toeriste sal terugkeer,” het Robertson gesê.
Weskus-toerisme het ook die streek by die woonwa-skou in Gauteng en by World Travel Market Africa bemark.