Lorenzo Huyster, ook bekend as “Razer”, maak goed naam vir homself. Foto: Chadwin Cook

Credit: SYSTEM

Die Hopefield-gemeenskap in die Weskus-streek het ’n musiekster in sy geledere, wat sedert April 2018 ’n naam vir homself maak.

Razer word deur die meeste beroemde rymkletsers soos Hemelbesem en Yoma identifiseer as ’n jongman met ’n unieke talent.

Lorenzo Huyster, beter bekend as Razer, sê sy liefde vir musiek het in 2014 begin toe hy in Mosselbaai by sy tannie gewoon het. Haar kêrel het destyds ook ge-rap en sy eie lirieke geskryf.

“Hy het eendag vir my ’n paar lirieke geskryf en ek het dit ge-rap, en só het my liefde vir musiek begin groei,” vertel Huyster.

“My musiek gaan oor my lewe, maar as ek skryf, skryf ek dit so sodat baie mense ook kan [aanklank vind] by my musiek. Ek verander dinge wat ek daagliks deurmaak of deurgemaak het in ’n storie vir ’n nuwe musiekgenre,” deel hy.

Huyster het in April 2018 die voorreg gehad om ’n verhoog met HemelBesem en Yoma asook Loufi te deel, voordat hy bekendheid by die JOOX Festival by die Kunstekaap-teater verwerf het.

Hy het in Junie 2018 sy eerste radio-onderhoud op Bush Radio gehad vir ’n opvolg oor sy ervaring by die fees in April.

“ ’n Artikel oor my het in Die Son verskyn – saam met die musiekgroep R.E.A.L. Muzik. In April 2022 was ek twee keer op Radio KC in een week, waar ek die wêreld my storie van musiek vertel het deur te rap.

Volgens Huyster hou musiek hom gefokus om nie soos die meeste jongmanne op sy ouderdom met verkeerde dinge betrokke te raak nie.

Die musikant wat hom die meeste inspireer, is die Amerikaanse rymkletser J. Cole, “want hy skryf oor sy persoonlike lewe”.

“Ek wil ’n groot rol in mense se lewe help vervul om hulle goed oor hulself te laat voel.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article