Wesbank druk deur

Wesbank het Saterdag (28 Mei) sy kanse in die Grootuitdaagbeker versterk toe hy Darling in ’n harde wedstryd op die Gabriel Pharo-veld in Darling 20-16 geklop het.


Wesbank het Saterdag (28 Mei) sy kanse in die Grootuitdaagbeker versterk toe hy Darling in ’n harde wedstryd op die Gabriel Pharo-veld in Darling 20-16 geklop het.

Darling het die wedstryd uit die staanspoor moeilik vir Wesbank gemaak deur gebiedsvoordeel te bewerkstellig en die sterk wind tot sy voordeel te gebruik. ’n Verdoelde drie en strafdoel deur Earl Lewis het Wesbank op die verdediging gehou.

Wesbank moes egter tevrede wees met min balbesit in die eerste 20 minute en kon eers sy eerste punte in die 29ste minuut met ’n strafskop deur die senter Leoniel Pietersen op die telbord plaas. Dit het die agterstand tot 10-3 in Darling se guns laat krimp.

Vurige spel deur Darling se voorspelers het Wesbank vir ’n groot gedeelte van die wedstryd op die agtervoet gehou en Wesbank moes met min balbesit tevrede wees. Sagte, deurdringende reën in die begin het Wesbank ’n bietjie ontwrig en hy kon nie sy normale hardlooprugby uitstal nie.

’n Strafskop vir onkantspel deur Wesbank het Darling se voorsprong na 13-3 laat styg. ’n Strafskop het tot ’n lynstaan diep in Darling se kwartgebied gelei nadat die skeidsregter Darling vir ’n oortreding gestraf het.

Charles Gerber, agtsteman van Wesbank, het ’n barshou gespeel en die agterstand na 10-13 laat krimp toe hy in die 35ste minuut van die wedstryd ’n bal ná goeie lynstaanspel ontvang en onder die pale oorgeval het. Nog ’n strafskop deur Earl Lewis het Darling se telling tot 16-10 geneem, wat later ook die rustydtelling was.

In die tweede helfte het Wesbank egter tot sy reg gekom en Darling onder druk geplaas en ook ’n paar goeie lynstaanballe afgeneem en in aanvalle omgeskep. Wesbank het sy tweede drie van die wedstryd in die 70ste minuut behaal toe dit deur Pietersen gedruk is, wat Wesbank vir die eerste keer in die wedstryd laat voorloop het (telling 17-16).

’n Strafdoel in die 75ste minuut het Wesbank se telling tot 20-17 laat styg en Darling vir die eerste keer in die wedstryd onder druk geplaas. Darling het die laaste drie minute verwoed aangeval, maar is telkens deur soliede verdediging van Wesbank gestuit.

Toe die skeidsregter se fluitjie ná 80 minute blaas, het Wesbank jubelend met gebalde vuiste in die lug gespring.

Wesbank pak eerskomende Saterdag die voorloper, Abbottsdale op sy agterplaas.


Ander uitslae:

Swartland

Moorreesburg 27-31 Abbotsdale

Never Despair 43-7 Koringberg

Good Hopes 33-12 Saron

Porterville 29-17 Villagers Wittewater

Weskus

Langebaan 12-18 Vredenburg

Mamre 13-22 Saldanha

Young Hearts 20-13 Velddrif

Hopefield 22-20 Paternoster

Piketberg 8-27 St. Helena

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.