Wesbank-7’s terug in die Swartland

Die roemryke Wesbank-7’s-rugbytoernooi is ná ’n jaar se afwesigheid terug op die Swartland-kalender.


Die roemryke Wesbank-7’s-rugbytoernooi is ná ’n jaar se afwesigheid terug op die Swartland-kalender.

Ondersteuners oud en jonk kan die jaarlikse Wesbank-7’s-rugbybyeenkoms, op 25 Januarie 2025 by die Wesbank-sportterrein in Malmesbury kom besoek en uithaler-7’s-rugby kom geniet.

Die komende 2025-toernooi is besig om die mees grandiose nog te wees, met 32 mans-spanne wat dit om ’n algehele pryspoel van R70 000 gaan uitspook.

Spanregistrasies is reeds sedert 1 December oop met ’n inskrywingsfooi van R1 500 per span. Registrasie sal sluit sodra die eerste 32 spanne ingeskryf en betaal het.

Slegs klubs wat deur SA Rugby en ander geaffilieerde unies erken word, kwalifiseer om deel te neem.

Sosiale klubs en uitnodigingspanne word nie toegelaat om in te skryf nie.

Die verdedigende kampioen, St Georges (Lulu Boys), kan hierdie jaar sterker teenstand van ander spanne verwag.

Die opwindende Mamre-7’s-span sal ná sy tweede OK Mamre-7’s-titel en naelskraapse nederlaag verlede jaar teen St. Georges wil seker maak hy stap hierdie jaar as kampioen weg.

’n Verskeidenheid items sal oud en jonk vermaak, met kosstalletjies en ’n volledige gelisensieerde kroeg vir diegene ouer as 18 jaar om af te koel wanneer die hitte te erg raak. Geen ondersteuners sal toegelaat word om alkohol op die terrein te bring nie.

Streng veiligheidsvoorsorgmaatreëls sal gehandhaaf word en die samewerking van die publiek word deur die toernooi-organiseerders gevra.

Die bekerwenner gaan met ’n allemintige R30 000 wegstap, terwyl die beker-naaswenner R15 000 sal ontvang.

In die Plaat-afdeling ontvang die wenner R10 000, terwyl die naaswenner met R6 000 sal wegstap.

In die Bowl-afdeling ontvang die wenner R5 000 en die naaswenner R2 000.

Die Speler van die Toernooi ontvang R1 000 terwyl die beste speler in die beker-eindwedstryd ook R1 000 sal ontvang.

Die sperdatum vir inskrywings is 15 Januarie 2025, en geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.

Kaartjies is beskikbaar teen R30 vir volwassenes, R10 vir kinders en pensioentrekkers en R20 per voertuig.

Vir meer inligting kan spanne vir Eduann Howburg by 071 920 1345 of Ronald Arendse by 083 440 5158 bel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.