Werkers só beloon

’n Konstruksiemaatskappy doen sy deel op unieke wyse om sy werkers gemotiveerd te hou en gewaardeer te laat voel.


’n Konstruksiemaatskappy doen sy deel op unieke wyse om sy werkers gemotiveerd te hou en gewaardeer te laat voel.

Amandla-konstruksie het ’n hele paar maande gelede begin om elke maand iets spesiaal vir sy werkers te doen.

“Amandla-konstruksie is tans besig met ’n projek waar hy brûe in en om Robertson restoureer. Baie van sy huidige werkers is plaaslike inwoners en die maatskappy het dit goedgedink om die werkers op ’n spesiale manier op te kikker en te motiveer,” verduidelik Lizell Adendorf, die gemeenskapskakelbeampte.

Werkers word aan die einde van elke maand met ’n koopbewys beloon. Die proses wat gevolg word om vas te stel wie die gelukkige begunstigde is, word deur die werknemers self behartig.

“Die werkers werk in groepe van vier. Hulle sal dan mekaar se gedrag oplet en of die spanlid in die laaste tydperk behulpsaam was. Hulle let al die klein goedjies op. Die werker wie se kollegas dink hy verdien die prys, se naam word dan op ’n blaadjie geskryf en dan word dit in ’n boksie gegooi. Hierdie proses is natuurlik anoniem,” verduidelik Adendorf.

Die individu wie se naam die meeste neer geskryf is, word dan met ’n koopbewys beloon.

Volgens Adendorf word hierdie koopbewyse deur ’n derde party geborg. Sy meen ook dat hierdie stelsel daartoe gelei het dat die werkers meer produktief is.

“Almal het baie positief hierop reageer. Dit spoor ook almal aan om meer produktief te wees en om beter te werk te lewer.”

Daar word ook elke maand ’n braai vir die werkers gehou om dankie te sê vir hul deurlopende harde werk.

Adendorf is ook van mening dat hierdie die perfekte manier vir ondernemings is om te wys dat hulle hul werkers se moeite in die werkplek waardeer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.