Daar word maande gewerk om De Oude Kraal se WildsKOSfees ‘n bederfervaring van die heerlikste geregte vir besoekers te maak. Credit: Eye Poetry Photography

Terwyl gaste hulself verlustig in geurige wildsgeregte en voortreflike wyne by De Oude Kraal se 25ste WildsKOSfees, ontvou daar agter die skerms ’n merkwaardige samevloeiing van natuur, kulinêre kuns en boerevernuf.
Die beplanning vir hierdie unieke fees wat vanjaar op Saterdag 7 Junie buite Bloemfontein aangebied word, begin maande voor die eerste gereg bedien word. Elke aspek – van etiese wildwerwing en volhoubare jagpraktyke tot kreatiewe resepte en fynproewer-vleishantering word met sorg en passie aangepak.

Die doel? Om ’n wêreldklas kulinêre ervaring reg in die hart van die Vrystaat te bied.
Wat begin het as ’n kleinskaalse poging van net 30 gaste in die eerste jaar, het gegroei tot ’n feestelike byeenkoms van meer as 2 000 mense in hierdie 25ste jaar – alles die breinkind van Gerhard en Marie Lombard.
“Ons eer die natuur, die wild en die veld deur verantwoordelik met dié gawes om te gaan. Elke gereg vertel ’n storie van balans, eerbied en unieke smake wat jou sintuie laat sing,” sê Marie, eienaar en sjef van De Oude Kraal.
In aanloop tot die fees word daar jaarliks sowat 3,2 ton wildsvleis verwerk – afkomstig van 16 verskillende spesies, waaronder springbok, blesbok, waterbok, eland, koedoe, ribbok, takbok, bosvark, vlakvark, gemsbok, rooihartebees, blouwildebees, swartwildebees, njala, rooibok, en selfs krokodil. Daar is ook stalletjies met bees, skaap, vark en vis.
Elke karkas word deur Marie en haar span self verwerk – van die uitsny van vleissnitte tot die ontwikkeling van disse en smaakprofiele. In die proefkombuis is daar ’n aansteeklike opgewondenheid: worsmengsels word vars gebraai, geproe en fyn ingestel totdat die geur, tekstuur en soutgehalte perfek is.
Die WildsKOSfees is egter méér as net ’n kulinêre belewenis – dit is ’n viering van kultuur, gemeenskap en Suid-Afrika se ryk kos-erfenis. Die fees bring plaaslike produsente, entoesiastiese helpers, kunstenaars en wildkenners byeen om saam iets besonders te skep.

Kry jou kaartjies vandag nog by De Oude Kraal se webwerf by deoudekraal.com, by Delta-drankwinkel op die hoek van Tweedelaan en Pres. Reitzlaan, by Crazy Daisy in Fleurdal Mall of by Daisy & Co in Prellerplein.

Rooihartebees Carpaccio. Foto: Verskaf

Net om jou lekker lus te maak, hier is die resep vir een van Marie se spesialiteitsresepte wat jy tuis kan probeer:

Rooihartebees Carpaccio


Bestanddele:
• 1 x rou rooihartebees-binnefillet, skoongemaak van alle senings
• Steak- en tjopspeserye
• Plastiekrol of kleefplastiek
• Vinaigrette (bestanddele hieronder)
• Vars lemoenskywe
• Growwe sout en growwe swartpeper
• Opsioneel: vars parmesaanskaafsels en vars kruie
Metode:

Braai die fillet vinnig op hoë hitte om die buitekant te seël – die vleissappe moet binne bly.

Laat afkoel, rol styf toe in plastiek en vries totdat dit hard is.

Sny die gevriesde fillet in baie dun skyfies. Laat toe dat die vleis kamertemperatuur voordat dit bedien word.
Vinaigrette:
Meng die volgende na smaak:
• Heuning
• Balsamiese asyn
• Lemoensap
• Sonneblomolie
• Ina Paarman se roosmaryn- en olyfspeserye
Bediening:
Skik die carpaccio op ’n bord, plaas vars lemoenskywe bo-op, drup die vinaigrette daaroor en rond af met ’n bietjie growwe sout en peper. Voeg parmesaanskaafsels en vars kruie by vir ekstra geur en flair

You need to be Logged In to leave a comment.