Drie lede van die Swartland-OGKK-dojo (Okinawan Goju Ryu Karate-Do Kyokai) is onlangs gekies om Suid-Afrika by die sewende WGKF (wêreld- Goju-Ryu-karatefederasie) se toernooi in September vanjaar in Oostenryk te gaan verteenwoordig.

Tyreaze Onverwacht (12), Layla de Lang (16) en Ruben Jordaan (14) skop nie net hoog nie, maar mik na die internasionale podium.

Tyreaze, ’n graad 7-leerder van die Christelike Privaat Skool (CPM) in Malmesbury, is saam met Layla, ’n graad 11-leerder van die Hoërskool Swartland en Ruben Jordaan, wat tuisonderrig ontvang, op pad na Europa vir die gesogte toernooi.

Die kampioenskappe vind van 1 tot 8 September in Fürstenfeld/Bad Loipersdorf in Oostenryk plaas.

Die Suid-Afrikaanse span is uit die deelnemers wat by die uitduntoernooi van 7 en 8 Oktober by Coetzenburg (Stellenbosch) uitgestaan het, gekies.

Die uitdunne het op dieselfde naweek as die OGKK- nasionale toernooi geval, wat dubbele harde werk en dissipline van die drie lede geverg het.

Tyreaze, Layla en Ruben is kort daarna aangewys om Suid-Afrika as deel van die RSA Goju Ryu-span by die komende internasionale toernooi te gaan verdedig.

Layla de Lang (16)

Ruben Jordaan (14) saam met sy senseis Johannes van der Merwe en Jeanne Steyn.

Elke spanlid is vir hul eie kostes verantwoordelik. Tyreaze se ma Glynise van Abbotsdale, wat saam met haar seun gaan, vertel onder meer dat sy druk besig is om aan ’n geldinsamelings-projek te werk, wat eersdaags plaasvind. “Ek wil nie die geleentheid van hom ontneem nie. Hy het hard gewerk daarvoor,” vertel sy trots.

Tyreaze, wat in 2023 sy groengordel se gradering suksesvol voltooi het, het in 2021 die nommer van ’n Swartlandse OGKK-advertensie afgeskryf, vir sy ma gevra of hy mag karate doen, en die res is geskiedenis. Hy het verlede jaar ook sy eerste OGKK SA kleure met sy deelname aan die OGKK- nasionale toernooi verwerf. As deel van die vereistes om SA kleure te behaal, moet deelnemers ten minste een goud en nog twee silwer- of bronsmedaljes ontvang, verduidelik sy sensei, Jeanne Steyn.

Layla doen op haar beurt sedert die ouderdom van drie jaar karate by Steyn, wat ook haar sensei is. “Layla het van ’n jong ouderdom af reeds uitgeblink en medaljes en trofeë by verskeie toernooie gewen,” vertel Steyn opgewonde. Sy het haar swartgordel-gradering in 2022 suksesvol voltooi.

Layla het in die 2022- OGKK- nasionale toernooi drie goue medaljes gewen en is ook as die OGKK-kampioen vir meisies van 14 tot 17 jaar aangewys. Sy het daar haar OGKK- SA kleure behaal en half-erekleure by HSS ontvang.

Haar ma, Penny, gaan saam om hul dogter te ondersteun.

Ruben het op die ouderdom van agt met sy karateloopbaan begin. Hy het onder die leiding van die senseis Jeanne Steyn en Johannes van der Merwe ’n groot liefde vir karate ontwikkel en behoorlik in die sport floreer. “Karate is ’n sport met baie dissipline wat harde werk vereis,” voeg Steyn by.

Ruben, wat ’n blougordel het, het ook in 2022 en 2023 aan die OGKK- nasionale toernooi deelgeneem en by beide geleenthede OGKK SA kleure verwerf. Hy is in 2022 onder meer as die trofeewenner in die ouderdomsgroep 10-13 jaar aangewys. Sy pa, Jean, gaan hom na die toernooi vergesel.

“Dit is vir Ruben ’n besondere geleentheid en voorreg om Swartland Dojo saam met Layla en Tyreaze as deel van die SA span in Oostenryk te gaan verteenwoordig,” voeg Steyn by.

Vir nou lê verskeie oefensessies vir die SA span voor, wat elke week by ’n verskillende lokaal van reg oor die land sal plaasvind ter voorbereiding vir die WGKF. Kyk uit vir Swartland Dojo se lootjieverkope as deel van hul geldinsamelingsprojek waartydens ongelooflike pryse op die spel is.

You need to be Logged In to leave a comment.