’n Wyn uit die Darling-omgewing het onlangs met die “beste waarde vir geld”-prys weggestap by die vyfde Cabernet Franc-uitdaging waar die beste wyne in dié variëteit aangewys is.
Die “waarde vir geld”-prys is aan die Ondine Cabernet Franc 2015 toegeken wat deur die Ormonde-wynkelder vervaardig word.
Die topses-wenners (in alfabetiese volgorde) was: Anthology Cabernet Franc 2017, David Finlayson Camino Africana Cabernet Franc 2017, High Constantia Cabernet Franc 2012, Rainbow’s End Limited Release Cabernet Franc 2018, Rietvallei JMB Cabernet Franc 2016 en Whalehaven Cabernet Franc 2015.
Die museumklas-wenner vir 2020 was My Wyn Cabernet Franc 2012 van Franschhoek wat gevolg is deur uitstekende goue medaljewenners in hierdie kategorie. Die paneel was baie beïndruk deur die ses ouer wyne (2012-2015), wat bewys hoe goed die Cabernet Franc kan verouder. Volgens die paneel was die wyne heerlik, in perfekte kondisie en kon hulle vir nog ’n paar jaar kelderveroudering ondergaan.
Die beoordelaarspaneel was Christine Rudman, Lizette Tolken, Greg Mutambe, Fiona McDonald en Malu Lambert.
In die topses-kategorie is daar gekyk na kenmerke wat die druifsoort definieer en wat dit sy unieke persoonlikheid gee. Daar was minder groen nuanses dwarsdeur die inskrywingslys as in 2019, wat die oesjare weerspieël wat hoofsaaklik 2017 was, met hier en daar ’n 2018 of 2016. Van die ander kommentaar vanaf die paneel was dat die beste wyne elegansie, balans en kompleksiteit gewys het met verskeie lae vrugtigheid en tersiêre parfuum en ander smake.
Die beoordeling het Dinsdag 17 Maart by Vrede en Lust-landgoed in Simondium plaasgevind, wat ook die borg is van vanjaar se Cab Franc-karnaval wat Saterdag 22 Augustus van 11:00-16:00 daar aangebied word. Die punte is onafhanklik deur die ouditeursfirma Cecil Kilpin & Co geverifieer. Die topses kan by die karnaval in twee intieme proesessies geproe word wat deur Rudman aangebied word. Kaartjies vir die karnaval en die proesessies is beskikbaar op www.plankton.mobi.