Wen met net 1 punt

MONTAGU. – ’n Rillerstryd het Saterdagmiddag (14 Mei) voor ’n volgepakte King Edward-sportterrein afgespeel, waar Montagu Villagers en Ashton United mekaar in ’n Grootuitdaagbeker-rugbywedstryd gepak het.


MONTAGU. – ’n Rillerstryd het Saterdagmiddag (14 Mei) voor ’n volgepakte King Edward-sportterrein afgespeel, waar Montagu Villagers en Ashton United mekaar in ’n Grootuitdaagbeker-rugbywedstryd gepak het.

Die tuisspan, wat naelskraaps 27-26 baas was, moes tydens die laaste klompie minute van die wedstryd egter kwaai walgooi om die maroen-tsoenami uit sy doelgebied te hou. Ashton het op daardie tydstip meedoënloos aangeval en die een aanval na die ander op Villagers se doellyn van stapel gestuur.

Hierdie dreigende driedruk-pogings van die besoekers is net-net met desperate keerwerk gestuit.

Die besoekers het in die eerste helfte sy losskakel, Jean Pierre Pekeur, weens ’n besering, wat soos ’n ernstige enkelfraktuur gelyk het, verloor.

Voor rustyd en tot sowat tien minute ná die omdraaityd het sake nog taamlik gelykop verloop.

Dit was egter die besoekers wat eerste sy neus voorgekry het toe David Wagenaar met ’n strafdoel geslaag het.

Kort hierna het die spanne weer gelyk getrek toe die tuisspan se losskakel, Maxwell Klaasen, ook met ’n strafdoel suksesvol was.

Minute later laat Klaasen sy span die voortou laat neem met ’n langafstand-strafdoel van net binne die besoekers se halfgebied, wat die telling 6-3 gemaak het.

Nie lank hierna nie het die tuisspan ’n oortreding by ’n afbreekpunt begaan en Wagenaar het sake weer gelykgemaak toe hy die strafskop tussen die pale deur stuur om die telling 6-6 te maak.

By ’n latere geleentheid het die heelagter Handré Ontong in die regterhoek oorgeduik nadat die tuisspan se voorspelers eers die bal hanteer en ’n stukkie veld gewen het. Klaasen het dié moeilike doelskop van die kantlyn af oorgeklits om die telling op 13-6 te staan te bring (Villagers voor).

Toe spel hervat, het die besoekers feitlik onmiddellik teruggeslaan toe hy tot binne die tuisspan se kwartgebied gevorder en die voorspelers en sy agsteman, Jonathan Meyer, aan die spits, met brute krag reg onder die doelpale oor die doellyn is vir ’n vyfpunter. Wagenaar het met die maklike doelskop geslaag en die telbord het met rustyd 13 elk gewys.

Ná die blaaskans het die tuisspan vinnig weer punte aanteken en die voortou met ’n verdoelde drie geneem. Die driedrukker was sy vleuel Beon Hartnick en Klaasen het verdoel om die telling tot 20-13 te laat groei.

Kort na dié drie het die momentum van die wedstryd egter na die besoekers se kant verskuif. Van toe af is die spel meestal in die tuisspan se gebied gespeel.

Die besoekers het talle aanvalle van stapel gestuur, waarmee hy die tuisspan onder geweldige druk geplaas het.

Dié volgehoue druk het veroorsaak dat die tuisspan verskeie oortredings begaan het en gestraf is. Wagenaar het twee van dié strafskoppe in punte omgeskep en sy span se agterstand tot net een punt verklein (telling 20-19).

Kort hierna het die besoekers weer met ’n aanslag gekom toe sy voor- en agterspelers die bal rondgeslinger en die tuisspan verdedig het vir al wat hy werd is, maar nie die aanval kon stuit nie.

Die besoekers het uiteindelik deurgebreek en langs die linker-regoppaal gedruk.

Wagenaar het verdoel en Ashton het onder luide toejuiging van sy ondersteuners die voortou met 26-20 geneem.

Met die einde van die wedstryd in sig het die spanning opgelaai. Die ondersteuners het geskree, aangemoedig en selfs raad gegee oor hoe om die wedstryd te beklink.

Die gille en krete was egter oorverdowend toe die tuisspan van binne sy eie halfgebied met die bal begin hardloop het. Die besoekers het vir ’n vale probeer keer, maar die tuisspan het daarin geslaag om die verdediging te klop en Charlton Fortuin, buitesenter, het vir die tuisspan se derde drie oorgeduik.

Klaasen het verdoel en die tuisspan het die bordjies weer verhang met die telling wat 27-26 word met Villagers ’n skrale enkele punt voor.

Toe word dit ’n senutergende gedoente.

Met min speeltyd oor het die besoekers onmiddellik tot aanval oorgegaan en gou tot binne die tuisspan se kwartgebied gevorder, waar hy probeer het om die verdedigingsmondering van die tuisspan met optel- en dryfstormlope af te breek.

Die tuisspan het sy hande vol gehad om die besoekers van sy doellyn af weg te hou, en in die proses talle oortredings begaan. Tot groot frustrasie van sy ondersteuners is die tuisspan telkens gestraf terwyl die uurglas so te sê leeggeloop het. Al die strafskoppe was boonop binne trefafstand van die doelpale. Net een suksesvolle strafdoel sou na alle waarskynlikheid ’n oorwinning aan die besoekers besorg het.

Elke keer toe die besoekers se Wagenaar, wat oor ’n baie akkurate skopvoet beskik, pale toe aanlê, is hy angstig dopgehou. Ongelukkig vir die besoekers, maar tot groot verligting van die tuisspan, het hy sy skopskoene by die huis vergeet. Hy het minstens drie maklike strafdoele in die laaste minute van die wedstryd kort na mekaar gemis.

Die tuisspan het ’n groot sug van verligting geslaak toe die skeidsregter, Henry Windvogel, uiteindelik ná wat soos ’n ewigheid gevoel het, die eindfluitjie blaas met die eindtelling 27-26.

Die tuisspan se dissipline het byna sy ondergang bewerkstellig. Twee van sy spelers is met geelkaarte gestraf en moes tien minute in die koelkas deurbring.

Die vleuel Beon Hartnick het met die afskop van die wedstryd ’n speler in die lug gespeel en laat in die stryd is die buitesenter, Charlton Fortuin, ook vir ’n oortreding afgestuur.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.