Geagte mnr. Tiger Brands
Ek ken nie jou regte naam en van nie, en ek wil ook nie die brief begin met “liewe” nie, want op hierdie oomblik dink ek die woordjie “liewe” hoort nie hier nie.
Hierdie brief gaan oor Ashton, ons buurdorpie. Op skool het ons altyd gepraat van Blikkiesdorp, want Ashton is nie ’n sommerso-dorpie nie. Maar jy weet, want jou fabriek is daar, wat elke jaar duisende en duisende blikkies inmaak-vrugte maak. Ons praat sommer van canned fruit, al is dit Engels. Om die waarheid te sê, maak Ashton Canning al van 1959 af ingelegde vrugte. Dis ’n baie lang tyd, mnr. Tiger Brands. Ons het in die plaasskool al begin leer van hierdie wonderlike fabriek, amper op ons agterstoep. Die papiertjies is mooi van die blikkies afgehaal, netjies geknip met ons kinderhandjies, en in ons boeke geplak. Want hierdie belangrike plek is in ons skoolboeke genoem. Elke jaar met oestyd, ry rye en rye lorries Ashton toe, volgepak met die mooiste vrugte, wat dan deur vlytige hande verwerk word en waarvan tonne en tonne oorsee gestuur word – sonryp vrugte uit sonnige Suid-Afrika, verwerk in een van die grootste inmaakfabrieke in die suidelike halfrond.
Maar, mnr. Tiger Brands, hierdie is nie sommer ’n hierjy-fabriek nie. En ’n mens sluit nie ’n fabriek sommer so nie.
Jare en jare al gee die fabriek vir vele gesinne kos om te eet.
Dis nie net elkeen met hul potblou oorjasse wat werk kry nie, dis elke boer met sy lorrie vol kratte, en elkeen wat gehelp het om daardie kratte vol te pluk. Dis soos om ’n klippie in die water te gooi, en die kring word al groter en groter.
En nou, nou wil jy, mnr. Tiger Brands, net ’n slot aan ’n deur kom sit wat al ouer is as jy. Hoekom, wonder ek?
Het jy dit besluit toe daar ’n splinternuwe brug in Ashton opgesit is, mnr. Tiger Brands? Want daar is baie slaapplek onder daardie reusebrug. Dalk moes hulle ’n groter brug gebou het, want daar gaan nou baie mense blyplek soek vir hul honger lywe. Of gaan hulle die slot afkap, en tussen die orige blikkies en kratte bly?
En jy, mnr. Tiger Brands, gaan net ’n nuwe fabriek iewers koop, en nog meer geld maak, en canned fruit koop wat met ’n skip uit China kom.
So, ek vra jou baie mooi, mnr. Tiger Brands, wat jou regte naam ook al is – wees ons genadig, asseblief. Hierdie klippie se kringe is reeds baie groot, en laat baie vrees in baie mense se hart.
’n Kameel is ’n baie groot dier, mnr. Tiger Brands, en ’n naald se oog het ’n baie, baie klein gaatjie.


