Wat as onnie en leerder ‘baklei’?

Dit word gewoonlik van ouers en onderwysers verwag om saam te werk om leerders in hul skoolloopbaan te ondersteun, maar wat gebeur as onderonsies tussen leerders en onderwysers ontstaan?.


Dit word gewoonlik van ouers en onderwysers verwag om saam te werk om leerders in hul skoolloopbaan te ondersteun, maar wat gebeur as onderonsies tussen leerders en onderwysers ontstaan?

Volgens Millicent Merton, ’n WKOD-woordvoerder, moet ouers en/of leerders eers die skoolhoof nader indien hulle ’n onderonsie met ’n personeellid gehad het. “Indien die ouer/leerder nie tevrede is met hoe die saak hanteer is nie, kan dit by die distrikskantoor aangemeld word. Die Stop Misbruik-protokol moet deur die skool gevolg word,” verduidelik Merton.

Dit is egter ook soms leerders wat met onderwysers handgemeen raak en Merton sê fisieke konfrontasies is nooit die antwoord nie. “Die WKOD is bewus van die uitdagings rakende leerder-dissipline waaraan werknemers daagliks onderworpe is. Die departement moedig werknemers ten sterkste aan om ander opsies te oorweeg en hulle daarvan te weerhou om lyfstraf toe te dien aangesien dit ongrondwetlik, onwettig en onwaardig is.

“Selfverdediging en uitlokking sal slegs die sanksie beïnvloed, en nie die skuldigbevinding in ’n verhoor nie. Die WKOD moedig ’n kultuur aan om konflik deur middel van dialoog en bespreking op te los en ’n verantwoordelikheidsin en selfdissipline onder alle belanghebbendes in die skool te vestig,” sê sy.

Merton sê wanneer ’n beweerde voorval aangemeld word, moet die skoolhoof die direktoraat van werknemersverhoudinge in kennis stel.

“In die geval van werknemers wat deur die beheerliggaam in diens geneem is, moet seker gemaak word die beheerliggaam is van die beweerde voorval in kennis gestel.

“Dit is algemeen bekend dat die WKOD geen regsbevoegdheid het oor werknemers wat deur beheerliggame aangestel is nie. Voorvalle wat werknemers betrek wat deur die beheerliggaam van die skool in diens geneem is, moet (ingevolge die Stop Misbruik-protokol van die departement) by die distrik se maatskaplike werker, en/of aan die direktoraat van werknemers­verhoudinge, aangemeld word.

“Die rede hiervoor is om te verseker alle leerders ontvang die nodige berading en ondersteuning, en sodat die distrik se maatskaplike werker die saak by die Suid-Afrikaanse polisiediens kan aanmeld, afhangende van die meriete van ’n saak.”

Merton voeg by die tugproses, soos uiteengesit in Skedule 2 van die Wet op Indiensmening van Opvoeders, word vir WKOD-personeel gevolg indien gronde vir ’n klag van wangedrag bestaan.

Tugoptrede teenoor skoolbeheerliggaam-personeel word deur laasgenoemde hanteer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.