Die Wacky Wine Festival wat op 4 Junie afskop beloof om nie net meer as genoeg genot vir wynliefhebbers te bied nie, maar ook gróót vermaak vir musiekliefhebbers.
ClemenGold en Zandvliet Wynplaas span vanjaar saam om ’n volle drie dae van vermaak aan feesgangers te bied. Die eerste jaarlikse ClemenGold en Zandvliet Musiekfees is ’n moet vir oud en jonk.
Die unieke samesmelting tussen ClemenGold en Zandvliet is moontlik gemaak deur die onlangse koop van Zandvliet Wynplaas deur ANB Investments (die houermaatskappy van ClemenGold). Die reeds gewilde Wacky Wine Festival is beskou as die ideale bekendstelling van die musiekfees.
Die musiekfees skop af met ’n openingskonsert om 18:00 op 5 Junie. Khan Morbee (die hoofsanger van die Parletones) en die sangeres en liedjieskrywer Luna Paige sal die feestelikheid by Zandvliet inlei.
Saterdag se plesierigheid word met ’n jogasessie om 08:30 afgeskop. Almal weet die kleinspan is gewoonlik van vroegoggend af bedrywig. Om húlle besig te hou sal die Spektrum Kinderteater twee feëverhale die naweek aanbied. Rooikappie is Saterdagoggend eerste aan die beurt gevolg deur ’n kuiersessie met die gewilde kykNET-karakters Tjiff en Tjaff.
Saterdag se musiekprogram begin om 13:00. Die program sluit van Suid-Afrika se beste talent in. Die skreeusnaakse en talentvolle Peter Mitchell (beter bekend as Pietman, die Skot) sal as seremoniemeester optree. Onder die sangers wat die verhoog met hom sal deel tel Simon Orange, Luna Paige, Nick Turner, Gerald Clark, Chris Chameleon en Albert Frost.
Die Sondagprogram begin weer met ’n jogasessie terwyl die jongspan om 09:00 kan naderskuif vir Jan en die Boontjierank. Die feestelikheid sal op ’n hoë noot afgesluit word met die produksie Peels of Laughter and Barrels of Fun. Die unieke samekoms van talent, word aangebied deur die welbekende Lizz Meiring (Bizzie Lizzie) en sluit Heine du Toit (ClemenGold se voedseltegnoloog) en Jacques Cilliers (wynmaker van Zandvliet) in. Hulle stel die gehoor bekend aan spesiaal uitgesoekte ClemenGold-produkte en paar dit met premium Zandvliet-wyne. Chris Chameleon en Luna Paige sorg vir musikale vermaak en plesier