Vrou wou glo ‘kop skoonmaak’

Sy wou glo gaan “kop skoonmaak” by die kwekery.


Sy wou glo gaan “kop skoonmaak” by die kwekery.

Tania Uys (49) het Sondagoggend aan haar man, Henry, gesê sy gaan na haar gunstelingkwekery in Melkbosstrand ry aangesien dit altyd goed vir haar siel is.

Tania, ’n inwoner van Yzerfontein, is Sondag 30 Januarie skuins ná 11:00 op die R27-Weskuspad dood nadat haar motor sowat 1 km van die Yzerfontein-afdraai af teen ’n vragmotor gebots het.

Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, is Tania op slag dood.

Filander sê Tania het met haar motor van haar tuisdorp af op die R27 ingedraai en in die rigting van Kaapstad gery toe die botsing gebeur het.

Die vragmotor het in die aankomende baan in die rigting van Langebaan gery.

Filander het gesê videobeeldmateriaal wat uit die vragmotor geneem is, toon dat die vrou glo “volspoed” in die vragmotor vasgery het sonder om rem te trap.

Ooggetuies het dit ook bevestig.

“Haar liggaam is weens die geweldige slag onherken­baar vermink,” het Filander aan Gazette gesê.

Volgens Filander was Henry ná die botsing op die toneel. Hy het daar bevestig Tania het aan bipolêre gemoedsteuring gely.

“Dit is ook gesê die vrou (Tania) het boonop gesukkel om oor die dood van haar vorige man te kom,” het Filander gesê.

Volgens ’n berig “Bylmoordenaars”, wat op 14 Augustus 2014 in die Gansbaai Courant verskyn het, is Tania se vorige man in 2011 in sy slaap met ’n byl vermoor. Die twee skuldiges is ná ’n uitgerekte hofsaak op 25 September 2014 swaar gevangenisstraf opgelê.

Tania het die oggend van die moord die huis met die hond verlaat om te gaan stap, terwyl haar man nog gelê en slaap het. Buite die huis het die skuldiges die huis dop­gehou, binnegegaan toe Tania weg is – met die doel om te steel – en Jan Otto (Nugget) met ’n byl doodgekap.

Tania is in die laaste paar jaar weer getroud.

Henry het Woensdag aan Gazette gesê dit was ’n voorreg om Tania in sy lewe te kon hê.

“Sy het ’n sagte siel gehad, was baie lief vir diere en sou nie ’n vlieg seermaak nie,” het hy bygevoeg. “ ’n Mens bons nie sommer net terug van erge trauma nie en Tania het baie gesukkel. Ek vat dit nou dag vir dag en probeer die mooi herinneringe aan haar koester.”

Volgens Des Paton, streekdirekteur van die provinsiale departement van verkeer vir die Weskus, was die Weskus-pad vir ure weens die botsing gesluit en moes motoriste terugdraai en alternatiewe roetes gebruik om by hul bestemmings te kom. Paton sê die pad was eers omstreeks 21:00 weer oop aangesien die botsing die pad beskadig het. Die skade moes eers herstel word aangesien dit ’n risiko vir verdere ernstige botsings sou wees.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.