’n Vrou van Riebeek-Kasteel wat ’n week gelede by ’n plaaslike kitsbank van R6 000 besteel is, het al haar geld teruggekry.
Gazette het vroeër berig die vrou, wat verkies om nie haar naam te noem nie, het geld by die kitsbank in Riebeek-Wes probeer trek, maar die kaart het vasgesit. Iemand het aan haar gestamp en toe sy weer kyk, was haar kaart weg. R6 000 is kort daarna by ’n kitsbank in Riebeek-Kasteel in twee agtereenvolgende transaksies onttrek (“‘Span’ werk saam by ATM”, 22 Februarie 2022).
Volgens die vrou is haar maksimum limiet-onttrekking op haar rekening net R3 000, en kon sy dus nie verstaan hoe die skelms soveel geld kon onttrek nie. Sy het dit met haar bank opgeneem, die bank het aanspreeklikheid aanvaar en haar R6 000 terugbetaal. Die vrou sê sy is baie verlig. ’n Klag van diefstal word steeds deur die Riebeek-Wes-polisie ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. – Samuel Walters