Inwoners van Volstruiskamp in Bredasdorp het Vrydagaand
skote hoor klap.
Lt.kol. Gustaf Tamboer, stasiebevelvoerder van
Bredasdorp-polisie, het by navraag bevestig ’n vrou is Vrydag omstreeks 22:35
deur vier gewapende mans in haar huis oorval. “Hulle het almal klapmusse
gedra.” Tamboer vertel die mans het geld by haar gesoek. “In plaas daarvan om
haar te vermoor, glo in opdrag van ’n kliënt, het die mans die geld wat sy by haar
gehad het gevat asook selfone. Tamboer vertel die vrou is daarna in haar motor
gedwing en beveel om na ’n kitsbank te ry om nog geld te trek. “Sy het haar
daglimiet getrek en aan hulle oorhandig. Haar ander bankkaart is ook by haar
gevat en nog geld is uit dié rekening onttrek.” Tamboer sê die vrou is beveel
om terug te ry na haar huis. “Intussen het die polisie by die toneel opgedaag.
Die een verdagte wou die vrou as gyselaar hou, maar het weggehardloop toe hy
die polisie gewaar. Hy het na die polisie geskiet.” Tamboer sê die polisie het
die man agternagesit en hom gevind waar hy agter ’n bos weggekruip het. Die
vuurwapen is ook naby hom gevind.” Die man is in hegtenis geneem en aangekla
vir poging tot ontvoering, huisroof, besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en
poging tot moord. Hy het vandag in die Bredasdorp-hof verskyn en is in
aanhouding. Die ander drie verdagtes is steeds op vrye voet en die ondersoek
duur voort.