Malmesbury is vroeg verlede Dinsdag (18 Februarie) met
sirenes weens ’n noodlottige botsing ten aanskoue van talle inwoners en padgebruikers buite die dorp begroet.
Die botsing, waartydens die bestuurder van ’n Darling Romery-afleweringstrok dood is, het omstreeks 06:30 op die N7-snelweg naby die Malmesbury-gholfbaan gebeur. Volgens sers. Henry du Randt, ’n woordvoerder vir die plaaslike polisie, was twee swaar voertuie in ’n botsing betrokke.
“Met die polisie se aankoms op die ongelukstoneel was paramedici en nooddienspersoneel reeds besig om die bestuurder en twee van sy passasiers uit die wrak te sny.
“Dit lyk in hierdie stadium asof die bestuurder van die
aflweringstrok teen die agterkant van ’n vragmotor se wa waarin klippe vervoer is, gebots het,” voeg hy by.
Die snelweg is tydelik deur die provinsiale en plaaslike verkeersdienste vir motoriste gesluit.
Die drie beseerde insittendes van die afleweringsvoertuig is onder meer na Malmesbury Crestcare en die Swartland-hospitaal vir verdere mediese behandeling geneem kort nadat hulle uit die wrak bevry is.
Die 44-jarige Tyulu Jongikhaya het egter weens die erns van sy beserings wat hy tydens die ongeluk opgedoen het, gesterf.
Darling Romery het bevestig dat Jongikhaya in diens van hul tak in Darling was.
Darling Romery is vir kommentaar genader, maar het die geleentheid in hierdie stadium van die hand gewys. Pogings om met die familie van die oorledene in kontak te tree, was teen druktyd ook onsuksesvol.
’n Saak van strafbare manslag word deur die plaaslike polisie ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.