Die muur wat tans langs die Malmesbury-polisiekantoor in Piketbergweg gebou word, het talle vrae opgelewer.
Volgens die polisiewoordvoerder sers. Henry du Randt is die bou van die muur egter deel van ’n groter projek wat op nasionale vlak uitgevoer word.
Du Randt het gerugte dat die muur gebou word as ’n veiliger heenkome vir hawelose inwoners wat op die oomblik op die terrein woon, vinnig in die kiem gesmoor deur te bevestig dat die bouwerk niks met hulle te doen het nie.
Hy verduidelik dat alle polisiekantore in die land, maar veral dié op die platteland, tans nie net opgeknap word nie, maar ook veiliger gemaak word.
“Die muur word gebou om die terrein af te sper en die stasie veiliger te maak,” het hy bevestig.
Die afgesperde terrein, wat aan die departement van openbare werke behoort, sal voortaan gebruik word vir die berging van die stukkende voertuie wat tans binne die stasie se terrein te sien is.
Polisievoertuie wat in gebruik is, gaan ook daar geparkeer word. “Die bou van die muur is dus grootliks vir veiligheidsredes en om die polisielede self veiliger te laat voel,” voeg hy by.
Die heining om die polisiekantoor word tans met ’n splinternuwe omheining vervang.
Die stasie gaan binnekort ekstra veiligheidskringtelevisiekameras kry tesame met verdere beligting om die polisiekantoor beter te beveilig.