Ek het op 4 Desember 2013 my bakkie na Jaars Bakwerke in Kerkstraat Robertson geneem sodat die voorruit uitgehaal en ’n nuwe een ingesit kan word. Ek het die voorruit voorsien.
Ek het in daardie stadium probleme met die voorruit gehad. Dit het op twee plekke gelek aan die passasierskant sowel as aan die bestuurderskant, dít nadat ek die voertuig drie keer daar gehad het en ek vertel is die ruit is reg.
Op 26 Julie vanjaar het ek die eienaar geskakel en gesê ek eis my geld, R400 vir die uithaal en insit van die ruit, terug. Hy het vir my gesê ek kan dit kom haal. Ek het toe vir hom gesê ek sal na ’n glasplek toe moet gaan (om die ruit te laat regmaak), toe weier hy om my geld terug te gee. Hy het my bakkie sleg gemaak. Hy het my ook gedreig en gesê ek kan maar die polisie gaan sien.
Ek wil ’n baie duidelike boodskap uitstuur: wees versigtig vir slaggate, julle val daarin.
Jaars Bakwerke reageer as volg:
Die betrokke voertuig het reeds baie probleme, waaronder roeskolle, om die voorruit gehad, toe dit by die onderneming aangebring is. Die roeskolle is so goed moontlik behandel voor die voorruit vervang is.
Dit dien vermeld te word dat die lekplekke ’n ou kwaal is en dat die voertuig een is waaraan daar duidelik in die verlede verskeie kere gewerk is. Die ruit is ná vervanging getoets vir enige lekplekke en daar was geen.
Die onderneming doen al die afgelope 35 jaar besigheid en nog nooit is enige probleem van dié aard teëgekom nie. Daar word altyd eerste na die kliënt se belange omgesien.
In geen stadium is die klaer in dié saak gedreig nie. Die klaer is welkom om die onderneming te kontak of te besoek om dié kwessie uit te klaar