PORTERVILLE – Vroue van die plaaslike landbouvereniging het onlangs geluister na ’n aanbieding oor die agtergrond, wetgewing en werking van Bergrivier-munisipaliteit se afvalbestuur.
Dié projek het drie jaar gelede begin met die sluiting van sommige stortingsterreine en die inbring van die driesakstelsel.
Die driesakstelsel het ’n besparing van 24% oor ’n termyn van drie jaar teweeggebring. Volgens adv. Hanlie Linde, die munisipale bestuurder, is die Bergrivier-munisipaliteit derde in die Wes-Kaap vir doeltreffende afvalbestuur.
Afval word verdeel in huishoudelike nat vullis (swartsak), tuinvullis (groen sak) en herwinbare vullis (deurskynende sak). Swartsakke word na oorlaaistasies vervoer en dan na Malmesbury vervoer. Stortingsterreine by Porterville word nou slegs vir bourommel en tuinvullis gebruik.
Die munisipaliteit hanteer nog nie elektroniese afval op hierdie stadium nie. ’n Voorstel van die VLV is dat so ’n projek van stapel gestuur word waar ’n houer by ’n vulstasie geplaas word en dan daarvandaan na Vissershok vervoer word.
Afgevaardigdes van die Bergrivier-munisipaliteit het wenke gegee vir vullis wat in deurskynende en swartsakke gesit word. Die belangrikheid van herwinning in belang van die natuur is benadruk en daar is oor die klassifisering van plastiek in sewe groepe volgens kodes gepraat.
VLV-vroue het ook interessante wenke vir herwinning gegee. Foamolite bakkies in ’n glasfles bedek met verdunner (thinners) is handige vuuraanstekers. Plasiek 2 F-bottels gevul met warm water (dit krimp) verhit ’n bed heelnag.
’n Samewerkingsvennootskap tussen die munisipaliteit en VLV is gesluit wat behels dat lede behulpsaam sal wees om enige ongerymdhede onmiddellik te rapporteer en ook om die herwinningsboodskap te versprei.
Alle klagtes kan aan die munisipaliteit gerig word en Linde waarborg dat daaraan aandag gegee sal word. Sy het ook versoek dat geen oorskiet alkohol in bottels vir munisipale werkers gelaat moet word tussen die afvalsakke nie. Die boodskap is duidelik: Herwinning skep werk en rommelstrooiing moet stop