Die tweede VLV-byeekoms, aangebied deur die Malmesbury-tak by Cafe Myrtledene, het die afgelope Woensdag (5 Februarie) plaasgevind waartydens Uys van der Westhuijzen, betrokke by landelike veiligheid op nasionale vlak by Agri SA en die voorsitter van landelike veiligheid in die Wes-Kaap, die kollig op veiligheid geskyn het. Hy het na die onderwerp as ongewild verwys, omdat mense neig om vingers te wys sodra iets gebeur.
Volgens hom sluit landelike veiligheid nie slegs plase in nie, maar ook dorpe in landelike omgewings. “Dit gaan nie hier oor ons nie – dit gaan oor ons nageslag. Ons is hier om iets te begin. Ons moet kyk na die werklikhede en wat verkeerd gegaan het en hoe ons dit gaan regmaak,” meen hy.
Hy sê die werklikheid is dat te min polisievoertuie of voldoende sigbare polisiëring na gelang van noodsaaklikheid beskikbaar is. “Daar is nie ekstra lede vir sigbare polisiëring op die platteland nie. Dit is wat dit is, maar dit help nie om ’n vinger te wys nie. Ons moet na onsself begin omsien, eienaarskap neem en betrokke raak,” voeg Van der Westhuizen by.
Dwelmmisbruik, werkloosheid en misdaad is aan die toeneem en maatskappye is besig om familieplase oor te neem. “Hier is bendeoorloë in Wesbank,” sê hy.
Volgens hom is dit belangrik om te besef dat misdaad vir ’n rede gebeur. Van der Westhuijzen het verder uitgebrei oor faktore wat voornemende misdadigers in ag neem wanneer hulle by ’n perseel wil inkom.
“Misdadigers gaan vir seker by ’n huis wat die minste uitdaging bied, inbreek. Aanloklike teikens soos byvoorbeeld ’n huis waar maklike toegang verkry kan word of waar hulle weet baie geld is, moet in ag geneem word.” Gewilde tye vir inbrekers is veral tussen 18:00 en vroegoggend wanneer inwoners ontspanne is, noem hy. “Tendense soos watter tye waar die meeste misdade voorkom en hoekom dit gebeur, is belangrik om met die plaaslike gemeenskappe gekommunikeer te word.”
Volgens hom is 97% misdadigers onder meer gewapen. Die gemiddelde ouderdom van ’n misdadiger is tussen 19 en 26 jaar oud. Sowat 30% van inbrekers sal moord pleeg, 17% van inbrekers is buitelanders en 90% van misdadigers is werkloos.
Van der Westhuijzen het verskeie faktore uitgelig oor hoe inwoners hulself kan beveilig en sê mense behoort daartoe in staat te wees om alarm te maak wanneer iets gebeur.
“Dit help nie jy het alles reg, maar hulle weet nie jy is binne jou huis in gevaar nie. As jy nie iets kan aktiveer nie, gaan jy nie reaksie kry nie. Indien jy wel ’n alarm het wat geaktiveer word, maak seker jy het ’n veilige plek in jou huis totdat hulp opdaag.”