VLV se vergadering nét betyds

Die jaarlikse sirkelkonferensie van die Overbergse VLV-takke het in Maart op Villiersdorp plaasgevind – net betyds voordat die verbod weens die koronavirus op byeenkomste van meer as 100 persone ingetree het.


Die jaarlikse sirkelkonferensie van die Overbergse VLV-takke het in Maart op Villiersdorp plaasgevind – net betyds voordat die verbod weens die koronavirus op byeenkomste van meer as 100 persone ingetree het.

Konferensiegangers van Bredasdorp, Caledon, Gansbaai, Hermanus, Jongensklip en Kleinmond het die gasvryheid, uitstekende reëlings en verversings van die gasvroutak, Villiersdorp, baie waardeer. Die tema van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland is vanjaar “Belê in Vroue” en al die sprekers het hierby aangesluit. Ds. Koos van Niekerk het die Konferensie geopen en die gedeelte uit Numeri van die vyf dogters se grondkooptransaksie gebruik as voorbeeld van hoe vroue kan uitstyg as hulle saamstaan en in mekaar se vooruitgang belê.

Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap het die VLV-lede verseker van dié landbou-organisasie se voortgesette steun en gesê “Waar die rol van die vrou nie belangrik geag word nie, verloor ’n gemeenskap.” In haar toespraak as gasspreker het Elsa Winckler, romanskrywer van Bettysbaai, vroue aangemoedig om in liefde te belê en die vier soorte liefde as hoekstene te sien: dié wat van die huis ’n veilige hawe maak, dié wat bestaan tussen mense wat saamwerk, dié wat in ’n liefdesverhouding werk en dié wat aan goddelike liefde grens wat liefhet ten spyte van.Sirkel Overberg gee jaarliks ’n toekenning aan ’n Dankie-Persoon om erkenning te gee aan merkwaardige prestasies of gemeenskapsbydraes.

Vanjaar het toekennings gegaan aan die drie vroue-skoolhoofde, Gesina Loubser van Hoërskool De Villiers Graaff op Villiersdorp, Hanneke Strydom van Hoërskool Overberg en Geraldine Simon van Laerskool Swartberg van Caledon. Die sirkel het ook ’n eretoekenning oorhandig aan Corrie Fourie wat ná 21 jaar as sirkelsaamroeper vir Leefstyl uittree.Bredasdorp het die Hugotrofee verower vir die meeste punte in die kompetisie-afdeling met Hermanus tweede en Villiersdorp derde.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.