‘n Graanland en ‘n vragmotor van Thys van Niekerk het Donderdag omstreeks 14:13 op sy plaas Oumuur in die omgewing van Koringberg aan die brand geslaan.
Van Niekerk, wat op ‘n kontrakbasis vir produsente koring vervoer, se vragmotor was op die landery geparkeer. Die brand het in ‘n koringland begin, hoewel die presiese oorsaak van die brand in hierdie stadium nog nie duidelik is nie.
Willem Pretorius, wat die plaas huur, sê behalwe vir die vragmotor het sowat 20ha van sy staankoring en 20ha se stoppelland afgebrand. Sy buurman, Andries Serdyn, se plaas, Zanddrift, het ook brandskade opgedoen.
Sowat ses produsente in die omgewing het onmiddellik reageer en met trekkers kom help. Die brand is op die Koringberg-plaaswag se WhatsApp-groep geplaas, wat die Weskus-distrik se brandweerdienste op hul beurt ontbied het. Die brandweer het met twee brandweerwaens en nog ‘n brandweervoertuig opgdaag, terwyl sowat 50 mense uiteindelik kom help het om die brand onder beheer te bring en te blus. “Die staankoring met die sterk wind was maar ‘n gemors,” voeg Pretorius by.
Die vragmotor het nie koring in gehad nie.

In nog ‘n voorval het ‘n vragmotor wat aan die sementvervaardiger Afrisam behoort, verlede Maandag (3 November) omstreeks 12:00 uitgebrand. Volgens Nthabeleng Nxiwa, H&I -konstruksiemaatskappy se beampte vir gesondheid, veiligheid en omgewing, het dié sementtrok op die grondpad in Piketbergweg aan die brand geslaan. Geen beserings is aangemeld nie.
Die bestuurder het rook uit die instrumentpaneel gesien borrel. ‘n Elektriese kortsluiting blyk in hierdie stadium die oorsaak te wees.






You must be logged in to post a comment.