MONTAGU. – Montagu Villagers kon die tweede agtereenvolgende Saterdag nie ’n voorsprong in ’n oorwinning omskep nie. Eweneens kon hy ook die tweede keer agtereenvolgens nie ’n enkele punt ná rustyd aanteken nie.
Die afgelope Saterdag, 28 Mei, was dit dieselfde storie op die King Edward-sportterrein.
Met tuisveldvoordeel hierdie keer as bondgenoot, was die rooi-en-wit truie vroeg in sy Grootuitdaagbekerwedstryd teen Robertson Town ’n stewige 13-0 voor. Toe rustyd aanbreek, was die tuisspan, ondanks ’n onverdoelde drie deur Robertson, steeds voor – ’n netjies 16-5.
Maar tóg, toe Andrew Jota, die skeidsregter van die Overbergstreek, die eindfluitjie blaas, was dit die besoekers wat triomfantelik as wenner van die veld afgestap het nadat die tuisspan wéér nie punte in die tweede helfte kon aanteken nie.
Hierdie onvermoë van die span om nie te kan voortbou op ’n goeie begin nie, asook sy tekort aan punte ná die omdraaislag, behoort ’n groot bron van kommer vir die afrigtingspan te wees.
Nietemin het die tuisspan se heelagter, Handré Ontong, sy span vroeg in die wedstryd met ’n suksesvolle strafdoel op die voorvoet geplaas.
Sowat ’n kwartier later het McMillan Muller, kaptein en haker van die tuisspan, sy span se eerste drie in die linkerhoek ná slim spel, van ’n lynstaan in die besoekers se 22-metergebied, gedruk. Ontong se doelskop was egter regs verby (telling 8-0).
Hierna het die besoekers ’n paar minute in die tuisspan se kwartgebied deurgebring, waartydens hy die doellyn aanhoudend aangeval het. Die tuisspan het egter daarin om die blou-en-wit streeptruie uit sy doelgebied te hou.
Die telling word 13-0 toe die spel weer tot in die besoekers se kwartgebied gevorder en Bradley Jumaat (loskopstut) in die linkerhoek oorgeval het vir die span se tweede drie, wat ongelukkig nie deur Sylvester Moses (skrumskakel) verdoel kon word nie.
Na hierdie drie van die tuisspan het die besoekers met ’n verwoede aanslag vorendag gekom, waarin die voor- en agterspelers die bal hanteer het terwyl hulle eers regs en toe links oor die veld gespeel het.
’n Hanteerfout met die verspreiding van die bal het egter die geleentheid vir punte vir die besoekers ongedaan gemaak.
Die tuisspan, steeds onder druk, het ’n oortreding reg voor sy doelpale begaan, maar die besoekers het verkies om te skrum pleks van pale toe te skop.
Hierdie besluit blyk die regte een te gewees het toe sy regtervleuel, Jamille Afrika, in die regterhoek oorgeduik het.
Collin Willemse, losskakel, se doelskop was ongelukkig mis (telling 13-5).
Robertson is kort voor rustyd vir ’n hoogvat gestraf en Moses het die bal tussen die pale deur geskop om die rustydtelling op 16-5 te staan te bring, met Villagers 11 punte voor.
Maar dis ook min of meer die tyd toe die tuisspan se puntekraantjie styf toegedraai en dié van die besoekers s’n wawyd oopgedraai is.
’n Begeesterde Robertson-span het ná rustyd op die veld verskyn. Nadat spel hervat is, het die besoekers deurgaans gepoog om die ritme van die spel te versnel met tikskoppies wanneer die geleentheid hom voorgedoen het. Boonop het Willemse die tuisspan met goedgeplaaste skoppe in sy eie halfgebied vasgepen.
Die tuisspan het hom uit die moeilikheid probeer hardloop, maar telkens teen goeie verdediging vasgeloop en al meer foute onder druk gemaak.
So byvoorbeeld is ’n lynstaanbal skeef ingegooi. By ’n ander geleentheid is ’n vryskop aan die besoekers toegeken – skynbaar omdat die tuisspan te lank getalm het om die bal by die lynstaan in te gooi.
Nog ’n blaps deur die tuisspan was toe die besoekers ’n bal veld-op geskop en die tuisspan se plaasvervanger-heelagter die bal onder druk oor sy eie doellyn gedra en doodgedruk het.
En op ’n ander keer is die tuisspan naby sy doellyn selfs deur die besoekers van sy eie bal af geskrum.
Hierdie doelgerigte spel van die Robertsonners en talle foute van die tuisspan, het gelei tot drie drieë vir die besoekers in die tweede helfte. Die driedrukkers was Michaine Fick, Runé Lucas en Leronzo Baardman. Willemse het twee van die drieë verdoel.
Hierteenoor het die tuisspan punteloos in die tweede skof gebly, wat aan die einde van die dag ’n welverdiende sege van 24-16 aan die besoekers besorg het.
Die feit dat die tuisspan albei sy erkende stelskoppers – Ontong en Moses – weens beserings verloor het, kan in ’n mate seker as versagting vir sy punte droogte in die tweede helfte aangevoer word.
Hoe dit ook al sy, het Montagu Villagers nou drie nederlae op sy kerfstok met slegs twee oorwinnings uit vyf ligawedstryde wat hy tot dusver gespeel het.