Sowat 100 inwoners van die Ilingelethu-gemeenskap by Malmesbury het die reg in eie hande geneem toe hulle ’n vermeende verkragter aangerand het.
Volgens sers. Henry du Rand, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is polisiebeamptes omstreeks 19:30 na die toneel in Nobuhlestraat ontbied, waar hulle die verdagte (18) met verskeie beserings aangetref het. Hy is na die Swartland-hospitaal geneem vir behandeling, maar is weens die aard van sy beserings na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, waar hy tans onder polisiebewaking is.
Die man word daarvan beskuldig dat hy ’n negejarige kind vroeër die dag verkrag het.
’n Lasbrief is glo reeds vroeër vir die verdagte se inhegtenisneming uitgereik nadat hy versuim het om op aanklag van poging tot moord in die hof te verskyn. Die klag hou verband met ’n voorval in Wolseley waar die verdagte na bewering op 11 April ’n man by ’n restaurant op ’n gasteplaas in die gebied 10 keer met ’n mes gesteek het toe dié hom glo betrap het terwyl hy ’n voertuig probeer steel het, berig Samuel Walters.
Die slagoffer is na ’n hospitaal in Ceres gejaag. Die verdagte – glo ’n onwettige immigrant – is op die buurplaas in hegtenis geneem, maar tot almal se verbasing met slegs ’n waarskuwing op borgtog vrygelaat.
Advokaat Glynis Breytenbach, lid van die parlement en die DA se skaduminister vir justisie asook die voorsitter van die DA se federale regskommissie, het aan Walters gesê hulle het intussen ’n ondersoek na die gebeure gelas.