Die Swartlandse dorp Darling en sy mense treur ná die dood van die 14-jarige Jordan Adams wat Sondag 2 Maart deur ’n motor doodgery is.
Die minderjarige is dood nadat ’n inwoner van Darling, wat glo onder die invloed van alkohol was, Jordan en ’n vriendin, Asithandali Mlindazue, met ’n motor wat hy bestuur het, getref het. Die voorval het in die middag volgens die polisie in Evita Bezuidenhout Boulevard gebeur. Sy het onderweg na die hospitaal aan haar beserings beswyk, terwyl die 15-jarige Asithandali, wat ook getref is, in ’n kritieke toestand in die Tygerberg-hospitaal aansterk. Dié leerder kan glo volgens gemeenskapslede moontlik weens die aard van haar beserings verlamming in die gesig staar. Familie, vriende en gemeenskapslede het verlede week in groot getalle byeengekom om afskeid van die oorledene te neem. ’n Groot opkoms het die afgelope Donderdagaand op die plek waar hulle getref is, plaasgevind. Kerse is aangesteek en ’n blommekrans is gedurende die spesiale geleentheid ter ere van Jordan neergelê. Sy is die afgelope Saterdag ter ruste gelê.
Die bestuurder, wat Maandag 3 Maart in die plaaslike hof op aanklagte van strafbare manslag, dronkbestuur en roekelose en nalatige bestuur in die hof verskyn het, se saak is tot 25 Mei uitgestel. Volgens inwoners is die beskuldigde glo skaars ’n week ná die skokvoorval weer op die pad gesien waar hy agter die stuur was.
Kapt. JJ Otto van die Darling-polisie het bevestig die
beskuldigde is vrygelaat aangesien die uitslag van die
lykskouing en die dronkbestuurverslag uitstaande is.
Die gemeenskapsleier Hannalie Neethling sê die dorp is geruk deur die gebeure. “Sy was ’n rolmodeldogter van ons dorp.” Die plaaslike polisie het nie meer inligting rakende die voorval tot hul beskikking gehad nie en kon daarom nie betyds voor druktyd op navraag deur die Gazette reageer nie.