Iemand vertel my dat hy Nelson Mandela by twee geleenthede raakgeloop het. Spontaan het Mandela sy hand na hom uitgesteek en homself voorgestel. Maar nooit het daar ’n verhouding ontwikkel nie. Die rede: daar was geen verdere kontak nie.
Dikwels word mense aan Jesus voorgestel, hulle bid ’n oorgawegebed, maar daar is geen verdere kontak met die Here nie.
Daardie selfde mense soek nie die Here op nie. Hulle bid nie, lees nie die Bybel nie, gaan nie eens kerk of selgroep toe nie en breek nie met hulle sonde nie. Dis soos ’n dooie geboorte. Daar was ’n geboorte, maar ’n dooie een – die kind is dood gebore.
Sulke dinge kan ook in die geestelike lewe gebeur. Mense maak oorgawes aan die Here, maar hulle is soos die straatprediker gesê het: “Hulle is gebekeer, maar ook geparkeer!”
Morsdood staan hulle op een plek met geen verdere groei of ontwikkeling en geestelike vooruitgang nie. Daarom kan niemand hom daarop beroem dat hy of sy jare gelede iewers by ’n spesiale diens sy of haar hand opgesteek, ’n oorgawegebed gebid het en ongekwalifiseerd aanvaar alles is sommer reg nie