Wie ken jou die beste van alle mense? As jy getroud is, vir seker jou lewensmaat. Die rede? Julle deel alles saam en doen alles saam.
Geestelike toepassing:
So is ’n verhouding met God net moontlik as ek en jy doen wat Spr. 3:6 sê: “Ken Hom in al jou weë …”
Koning Josafat is hierin vir ons ’n voorbeeld. Voordat hy op versoek van Agab in ’n oorlog sou optrek, lees ons in 1 Kon. 22:5 – “Verder het Jósafat aan die koning van Israel gesê: Raadpleeg tog eers die woord van die Here.”
As kind van God neem jy nie ’n besluit waarin jy nie eers die Here geraadpleeg het deur Sy Woord en in gebed nie. Jy beweeg nie alvorens jy nie die sagte vrede van die Heilige Gees se goedkeuring in jou binneste ervaar het nie.
Ons verhouding met die Here staan ook nie los van ons verhouding met God se mense, die gemeente nie. Die Here praat, bou en werk ook deur Sy gemeente in ons lewens. Vir die Bybel bestaan daar nie so iets soos ’n losloper Christen nie.
Gebed:
My verhouding met U is so belangrik. Ek wil U in elke faset van my lewe inlaat. Amen!