’n Ouer egpaar is verlede week (Dinsdagoggend) in hul huis op die plaas Klipheuwel in die Moorreesburg-omgewing aangeval.
Die vrou, Ingrid Koch (65), het weens ’n steekwond aan haar nek in die aanval gesterf en haar man, Frans (69), is in sy wang gesteek, maar het die aanval genadiglik oorleef.
Volgens ’n verklaring wat die Moorreesburg-polisie Dinsdag ’n paar uur ná die voorval uitgereik het, is die polisie omstreeks 11:15 na die plaas ontbied waar ’n groep mense saamgedrom het.
By die groep was ’n man met vasgebinde hande en voete.
Een van die omstanders het die polisie meegedeel die vasgebinde man is ’n boosdoener wat die Koch-egpaar kort vantevore, tussen 10:30 en 10:40, in hul huis aangeval het.
Die plaaswerkers het die aanvaller agternagesit en hom gou gevang.
Luidens die verklaring het die polisie daarna die huis ingegaan en ’n paramedikus aangetref wat besig was om die gewonde Frans te behandel.
Ingrid het leweloos op die vloer gelê.
Sy is op die toneel dood verklaar en Frans is na die hospitaal geneem. Hy is in ’n bestendige toestand.
Na wat verneem word, het die aanvaller na die plaashuis gekom en vir water gevra. Hy het die huis met ’n mes binnegegaan en die egpaar oorval. Terwyl die egpaar met die aanvaller gestoei het, is Frans en Ingrid met die mes gesteek.
Volgens die Moorreesburg-polisie het die huiswerker uitgehardloop toe sy ’n kans kry en gaan hulp soek. ’n Groep plaaswerkers het die egpaar te hulp gesnel en die aanvaller het geen wegkomkans gehad nie.
Die verdagte (34) is op aanklagte van moord sowel as poging tot moord in hegtenis geneem. Sy saak het Donderdag (7 April) in sy afwesigheid in die Moorreesburg-landdroshof voorgekom nadat hy glo ’n operasie moes ondergaan, berig Netwerk24. Die saak sou gister (Maandag) weer voorkom.
Die plaaslike plaaswag het vroeër ’n Whatsapp-boodskap gedeel waarin gesê is die rede waarom geen alarm op die wag se sosialemediagroepe ná die aanval gemaak is nie, is omdat die verdagte dadelik vasgetrek is en hulle “so min as moontlik mense op die toneel wou hê om die bewysstukke so goed as moontlik te bewaar”.
Uys van der Westhuijzen, die voorsitter van Agri Wes-Kaap se landelike veiligheidsbeleidskomitee en wat self ook buite Malmesbury boer, het Dinsdag gesê sy hart gaan uit na die familie van die slagoffers.
“Dit was ’n sinnelose en barbaarse aanval wat helder oordag plaasgevind het. Ons is dankbaar die aanvaller is gevang. Mag hy die toepaslike straf kry wat hy verdien,” het Van der Westhuijzen gesê.
Volgens Van der Westhuijzen is veiligheidshekke en diefwering altyd die eerste linie van verdediging. “Moenie enigiemand toegang tot jou perseel gee of in jou huis toelaat nie,” het hy gepleit.
Hy het ook gesê plattelanders moet besef veiligheid op plase en in landelike gebiede gaan toenemend ’n groter uitdaging word namate die bevolkingsgetalle in dorpe en die metro-gebiede styg.
Rehan Nieuwoudt van die plaaslike plaaswag, wat navrae namens die familie hanteer, het vroeër aan Netwerk24 gesê die familie sal ’n verklaring vrystel sodra hulle gereed is.