Die verdagte in die moord op ’n 30-jarige winkelier in Kalbaskraal, Malmesbury sou na verwagting vandag (Vrydag) in die plaaslike landdroshof verskyn het.
Ali Akbar van Bangladesj, ’n winkelier by die Kalbaskraal Superette, is Woensdagaand (15 April) glo deur iemand wat hy geken het met ’n mes doodgesteek omdat hy na bewering geweier het om sigarette aan die verdagte te verkoop.
Volgens ’n Malmesbury-polisiewoordvoerder, kapt. Marko Heydenrych, het die winkel om 18:00 sy deure vir die werksdag gesluit en was Akbar en nog ’n winkelier wat in die voorval beseer is, glo in hul slaapkwartiere agter in die winkel toe iemand omstreeks 19:30 aan die deur geklop het. “Nadat die persoon homself geïdentifiseer het, het hulle die deur vir hom oopgemaak omdat hy aan die slagoffers bekend was.”
Die verdagte wou glo, ten spyte van die verbod op die verkoop van sigarette en alkohol, sigarette koop. Toe die slagoffers weier om sigarette aan hom te verkoop, het hy glo albei met ’n mes in die nek gesteek, het Netwerk24 vroeër berig.
Akbar het nie die aanval oorleef nie. Sy kollega word in ’n plaaslike hospitaal behandel.
*Die voorval kom minder as agt maande nadat die winkeleienaar van die supermark in die Shah-Zah-sentrum in Kalbaskraal, Uzzol Mohammed, sy werknemer, Olam Molla (albei van Bangladesj), en ’n kliënt Jeremy Davids op 25 Augustus koelbloedig gedurende ’n gewapende roof doodgeskiet is (“Supermarkslagting”, Swartland Gazette, 27 Augustus). Nog twee mans is in hierdie voorval gewond. Kort daarna, op 1 November, is twee getuies in die moordsaak, Elizabeth Vermeulen en haar vriend, Albert Simons, ook dood in hul woning aangetref. Die verhoor van die vier verdagtes wat weens die eerste moorde aangekeer is, word steeds aangehoor.