Verdagte dalk met ander moorde verbind?

Het die gemeenskap van Klawer ’n reeksmoordenaar of Satanis in hul midde? Dít is van die vrae wat nou oral in die dorp gevra word.


Het die gemeenskap van Klawer ’n reeksmoordenaar of Satanis in hul midde? Dít is van die vrae wat nou oral in die dorp gevra word.

Die wrede moord op Jerobejin van Wyk het ou wonde van onopgeloste moordsake in Klawer oopgekrap. Terwyl inwoners en gemeenskapsleiers gal braak oor die polisie se hantering van die 13-jarige Jerobejin se verdwyning, wie se opgesnyde liggaamsdele blykbaar in ’n man van Klawer se rioolstelsel ontdek is, het die verdagte erken dit is die vermiste se oorskot wat op sy erf gevind is.

Emosies het die afgelope week hoog geloop oor die wyse waarop die kind “soos ’n lam deur ’n slagter” opgesny is en sy oorskot stukkie vir stukkie in rioolpype afgegooi is.

Daniel Smit (56) het verlede Maandag in die plaaslike hof verskyn op aanklagte van moord, ernstige aanranding, ontvoering en regsverydeling. Smit het aan sy prokureur, Santie Human, erken hy het die kind vermoor en sy liggaam opgesny en gaan nie om borgtog aansoek doen nie.

Human het ook aan verslaggewers buite die hof gesê haar kliënt het erken hy het jare gelede vier mense in die Kaapse voorstede vermoor.

Mediaberigte lui dat Smit glo al van jongs af by die okkulte betrokke is.

Die oorledene en ’n maat het vermoedelik Woensdag 2 Februarie vrugte by die verdagte se huis gegaps, waarna hy hulle met sy bakkie gejaag het.

Die verdagte het vermoedelik vir Jerobejin getref en hom op die bakkie gelaai, maar hy is nooit daarna weer gesien nie.

Gazette het by ’n betroubare bron verneem dat die verdagte in die verlede ondersoek is nadat nog ander jongmense verdwyn het, maar hy kon nooit positief met die verdwynings verbind word nie. Die bron het ook bevestig dat die verdagte as reeksmoordenaar ondersoek word.

Demas Fortuin, voorsitter van die Klawer-gemeenskapspolisiëringsforum, sê die polisie moet dieper in die verdagte se verlede kyk aangesien vier jongmense van die gebied steeds soek is.

Smit se saak is tot 26 April vir verdere ondersoek uitgestel. Hy word aangehou.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.