Van water na vars produkte

Kraakvars, gehalte seisoenale groente en vrugte wat nog smaak soos “reguit van die plaas” af tot by jou deur.


Kraakvars, gehalte seisoenale groente en vrugte wat nog smaak soos “reguit van die plaas” af tot by jou deur . . .

Dít is wat die sogenaamde “Die Groenteman”, ’n plaaslike varsprodukte-verspreider, met sy doel om die boeregemeenskap te bevorder, aan Helderbergers bied.

Luan Retief van Strand is Die Groenteman, en dié 30-jarige vertel sy kleinsake-onderneming wat as skakel tussen boer en verbruiker dien, het sy bestaan meer as ’n jaar gelede gevind.

Luan, die eienaar van die besproeiingsmaatskappy Optimus Agri, het vir werkdoeleindes besoek afgelê aan verskeie plase en in gesprek getree met boere oor die pryse wat hulle vir hul vars produkte ontvang. Só het ’n blink idee dié baanbreker aangespoor om ’n geloofsprong te neem.

“Ek het gevoel ek sal hulle kan help deur hul produkte privaat te versprei, wat beteken het dat ek hulle ’n beter prys kon aanbied. Daarmee saam kon ek toe ook goeie gehalte produkte aan verbruikers lewer. Dus kan ons vir die boer sowel as die verbruiker tot voordeel wees. My vrou het met die idee gekom om my ‘Die Groenteman’ te noem en die bemarking te doen,” het Luan vertel.

Die entrepreneur sê sy jongste sake-inisiatief het in Junie 2020 op klein skaal begin, met vars produkte in kleiner hoeveelhede, wat sommer via WhatsApp aan vriende en bure verkoop is.

Maar, sedert die begin van hierdie jaar, het verkope skerp toegeneem en die bou van ’n handelsmerk vereis. Dié varsproduktemark word sommer van Luan se tuiste af bedryf en sy bedrywighede, asook watter soort produkte beskikbaar is, word meestal deur middel van sosialemedia-platforms bemark. “Die Groenteman bied vars groente en vrugte, wat direk van die boere af kom, aan. Dit het al meer as een keer gebeur dat ek nog moet staan en wag op die plaas dat die produkte klaar gepluk of geoes word. Ons probeer om dit nog die selfde dag aan verbruikers te lewer,” het Luan aangevoer.

Hy het voorts verduidelik die produkte word deur verskeie plase verskaf. Hy het al voorheen met die meeste sake gedoen en hulle is boere wat hy al goed ken.

“Dis nou of deur vriendskappe of baie keer is dit ’n plaas waar ek werk of installasies doen. Byvoorbeeld: ons beet kom uit Oudtshoorn, waatlemoen en spanspek van Worcester af, aartappels uit die Sandveld en mielies uit Rawsonville.

“So, wat baie keer gebeur, is dat ek iewers besig is en dan hoor van vars produkte op die plaas waar ek werk of een daar naby. Ek bring dit dan van daar af saam as ek terugkom huis toe. Ons laat ons verbruikers weet dat ’n spesifieke produk op pad is en neem dan bestellings, wat dan by optelpunte afgelewer word.”

Tans word die onderneming deur hom en sy vrou, Simoné, wat maar aan die stuur van sake is, bedryf. Luan doen die aankope en sien na sortering en aflewerings om, terwyl Simoné die administrasie, bestellings, kommunikasie met verbruikers en die bemarking hanteer. Luan se ma, Alta, word ook met die bemarking ingespan.

– Meer op bl. 2

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.