Samantha Stevens het ná 17 jaar as kelnerin onlangs haar loopbaan as onderwyser begin.


Die lewe het Samantha Stevens op ’n ompad geneem voordat sy haar droom om ’n onderwyser te word, kon bewaarheid.

Dié 41-jarige boorling van Robertson het aan die begin van die skooljaar as ’n gr. R-juffrou by ’n skool in McGregor begin. Sy het die afgelope 17 jaar as kelnerin in Robertson gewerk.

“Ek wou nog altyd ’n onderwyser wees. Ná skool wou ek au pair-werk gaan doen, maar het nooit die geld daarvoor gehad nie. Ek het uiteenlopende werk oor die jare gedoen, en die afgelope 17 jaar in die restaurantbedryf gewerk,” verduidelik sy.

Drie jaar gelede, op 38-jarige ouderdom, het sy net besluit dis nou of nooit.

“Ek het toevallig op Facebook ’n advertensie van Edu Build gesien en ’n kans gevat om te registreer. ’n Deel van my het getwyfel of ek wel aanvaar sou word, maar ek is nie lank ná my aansoek in kennis gestel dat ek aanvaar is om die kursus te doen.”

Sy bieg dit was met haar werk, wat lang ure geëis het, soms moeilik.

“Dit was ook vir my baie moeilik om ná al die jare weer te begin [studeer], en die feit dat dit in Engels was, het ook bygedra, maar ek het deurgedruk. Ek het deur die genade van die Here nooit moed verloor nie; al het ek soms gesê ek gaan opskop, het ek myself net aanhou motiveer.”

Sy het om vyf poste aansoek gedoen, en net vir een onderhoud gegaan. Toe sy die werk kry, was sy die ene emosies en blydskap.

“Dit was ’n tranedal toe ek die nuus ontvang het. Ek was geskok, ek was hartseer en ek was baie bly.”

Sy voeg by sy moet nou weer daaraan gewoond raak aan vroeg op te staan en ’n broodjie vir haarself te pak, maar sy is positief oor die paadjie vorentoe.

“Ek glo en vertrou ek gaan dit maak werk. Ek wil ook aan die matrikulante wat nie met baie goeie punte geslaag het of dit nie gemaak het nie, sê hulle moet nooit opgee nie. Vir dié wat al jare klaar is met skool – jou ouderdom hoef nie vir jou ’n struikelblok te wees nie; moenie dat dit jou terughou in die lewe nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.