Bonnievale 418 se missie is om werkloosheid in die gemeenskap te verlig.
Dié organisasie, wat in 2020 gestig is, streef daarna om mense op te voed, van meer inligting oor loopbaankeuses te voorsien, hulle reg te kry vir die werksplek en om hul formule met ander dorpe en gemeenskappe te deel.
Dewald Cillié, die indiensnemingsbestuurder by die organisasie, verduidelik hoe die organisasie te werk gaan om lede van die gemeenskap te hulp te snel:
“Ons fokus baie op die opvoeding van werkloses en skoolverlaters. Ons hou elke maand ’n kursus waar verskillende voorgeskrewe programme van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, die regering en verskeie organisasies sonder winsbejag met ons kliënte werk,” verduidelik Cillié.
Hulle fokus ook op loopbane.
“Hier bied ons dan beroepsvoorligting aan. Ons hou sessies met gr. 7-leerders om hulle te help om die verskillende vakkeuses wat skole aanbied, te verstaan. Ons help ook gr. 9-leerders om die regte vakkeuses te doen vir die loopbaan wat hulle eendag wil volg, en ook die punte wat hulle gaan nodig hê om by tersiêre instansies aansoek te doen.”
Hulle help natuurlik ook gr. 11- en gr. 12-leerders om aansoek te doen vir verdere studies.
“Ons hou hulle op hoogte van watter geleenthede beskikbaar is. Ons is elke week vir twee dae by al twee die hoërskole in die dorp.”
Alhoewel hulle baie op skoolgaande kinders en skoolverlaters fokus, is die organisasie se deure oop vir enigeen in die gemeenskap.
Bonnievale 418 bied elke maand ’n 13 daagse kursus aan om mense vir die werksplek voor te berei.
“Hier leer ons mense hoe om hul eie CV’s op te stel en hoe om hul geld te laat groei, onder andere. Ons leer hulle hoe om hul ingesteldheid aan te pas en ook hoe om hul eie onderneming te begin.”
Die kursus is vir enige iemand van enige ouderdomsgroep. Dié wat die kursus voltooi, word gradeer en kry ’n sertifikaat.
“Die dorp se sakekamer is ook deel van hierdie kursus, asook baie individue van die gemeenskap. Ons probeer ook om ’n ruimte te skep vir dié wat reeds die kursus voltooi het, sodat hulle ondersteuning kan kry en sodoende ook die gemeenskap kan help opbou.”
Volgens Cillié het 123 mense al hul 13-dae-kursus voltooi, 108 mense is al in diens geneem en 22 mense het al hul eie onderneming begin. “Ons wil graag ook hierdie formule, wat ons by Bonnievale 418 inspan, gebruik om ander te leer hoe om dit in hul eie dorpe aan te wend en soortgelyke organisasies te begin,” sluit Cillié af.