Uit die wegspringblokke

“800 km?”, kom die vraag vanuit verre Skotland. “AGTHONDERD KILOMETER?!?!” Amper asof ek nie die eerste vraag verstaan het nie. “Stap? Te voet? Is jy mal?!”.


“800 km?”, kom die vraag vanuit verre Skotland. “AGTHONDERD KILOMETER?!?!” Amper asof ek nie die eerste vraag verstaan het nie. “Stap? Te voet? Is jy mal?!”

Ek weet nie. Dalk. Ek is seker ’n hele paar mense wat my ken sal sê ek is sertifiseerbaar. Dalk moet mens effe mal wees om al 800 km van die Camino de Santiago in Spanje te voet aan te pak. In 35 dae.

“Hoekom?” is die meeste mense se volgende vraag. Ek weet nie. Dalk om ’n punt te bewys dat mense met liggaamlike struikelblokke nie op ’n hopie hoef te sit omdat ander reken hulle kan iets nie regkry nie.

Dalk is die reis ’n soeke na iets wat nog ’n naam moet kry. Of dalk bloot omdat dit, soos Everest, dáár is en die voltooiing daarvan ’n uitdaging is.

So daar is dit nou. Ek gaan die Camino stap. Al die pad van St. Jean Pied de Port in Frankryk tot by Santiago de Compostela in die noordweste van Spanje. Al 800 km daarvan. Te voet.

Ek is by die omdraaipunt verby. Die vliegkaartjie is bespreek, die skoene gekoop en die paspoort hernu. Ek oefen verwoed, maar meer hieroor volgende keer. Dít is ’n hoofstuk op sy eie!

Die finaliteit van ’n besluit is ’n vreemde ding. Die grootsheid van Die Weg, soos Camino-pelgrims dit noem, boesem saam met die uitsien daarna tog ook vrees in. Maar ook dít is deel van die reis. Tot volgende keer.

Buen Camino! (Good Path)

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.