Die Weskus-netbalfederasie se Twizza-kompetisie het Saterdag 7 Mei in Moorreesburg by die Gene Louw-netbalbane by die federasie se hoofkantoor begin.
Die Twizza-kompetisie is ’n projek van Netbal Suid-Afrika om ontwikkelende netbalspanne die geleentheid te bied om hul slag op die netbalbaan te wys.
Klubs mag egter nie nasionale en TNL-spelers gebruik nie.
Prysgeld vir die wenspanne is op die spel, met die span in die derde plek wat R1 000 in die sak steek.
Die span wat tweede eindig, sal R1 500 wen en die kompetisiewenners sal R2 500 ontvang.
Die kompetisie word op ’n rondomtalie-uitklopformaat gespeel.
Die spanne wat verlede naweek aan die toernooi in die A-afdeling deelgeneem het, was Citrusdal A, Malmesbury A, Langebaan A en Moorreesburg A. In die B-afdeling het Vredenburg A, Citrusdal B en Velddrif A deelgeneem.
Uitslae in die A-afdeling: . Citrusdal A (7) teen Langebaan A (16). Moorreesburg A (14) t. Langebaan A (16). Moorreesburg A (18) t. Citrusdal A (7). Malmesbury A (14) t. Moorreesburg A (8). Citrusdal A (11) t. Malmesbury A (10). Langebaan A (10) t. Malmesbury A (9)
B-afdeling: . Velddrif A (15) t. Vredenburg A (12). Velddrif A (22) t. Citrusdal B (3). Vredenburg A (22) t. Citrusdal B (14)
Die volgende ronde en die eindronde word Saterdag 2 Julie op Moorreesburg gespeel, waar die wenners aan die Wes-Kaapse Twizza-kompetisie gaan deelneem.