Die tweelingbroers Mark en Matthew Jackson pronk vanjaar albei onder Schoonspruit Sekondêr in Malmesbury se drie toppresteerders.
Die waarnemende skoolhoof Raynard de Jager, het gedurende die bekendmaking van die uitslae benadruk dat die matriekleerders van 2021 baie uitdagings in die gesig gestaar het. Volgens hom was verlede jaar se matrieks juis besonders nadat hulle matriek voltooi het sonder ’n volwaardige graad 11-jaar weens die Covid 19-pandemie.
Altesaam 241 leerders het verlede jaar die nasionale senior sertifikaateksamen voltooi, onder wie 84% van die kandidate geslaag het, teenoor 2020 se 82%. Hy het die 39 onsuksesvolle kandidate gevra om nie moed te verloor nie en aangemoedig om die hereksamen te gaan skryf.
Die toppresteerder, Mark, het ’n slaagsyfer van 80% behaal met sy tweelingbroer Matthew kort op sy hakke met 79%.
Mark en Matthew wil vanjaar BCom(Rek) aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Die broers sê hulle daag mekaar uit en hou aan om druk op mekaar te plaas om beter te presteer.
Jodene Ndlovu was in die derde plek met ’n gemiddelde van 71,28%. Layla Marais was in die vierde plek met 71%.
Die skool pronk verder met 87 leerders wat toelating tot hul baccalaureus-studies ontvang het, teen 2020 se 76 leerders. Die vak met die meeste onderskeidings was sakestudies.
Altesaam 26 vakonderskeidings is behaal.
Dit was die eerste keer in die skool se geskiedenis dat iemand ’n onderskeiding in Engels Huistaal behaal het.