Twee polisiebeamptes van Moorreesburg is Saterdag (15 Februarie) deur lede van die Onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) op aanklagte van ontvoering en verkragting in hegtenis geneem.

Hul inhegtenisneming volg nadat ’n ondersoek weens klagtes van wangedrag teen die betrokke beamptes deur Opod van stapel gestuur is.

Die beamptes is deel van vier polisiebeamptes van die Swartland-streek wat tans misdaadaanklagte weens wangedrag in die polisie in die gesig staar.

Dié bewerings is verlede week deur Opod, wat die voorval ondersoek, bevestig. Volgens Phaladi Shuping, die Wes-Kaapse woordvoerder vir Opod, het die voorval op 8 Februarie plaasgevind.

Shuping het onder meer bevestig dat twee polisiebeamptes met ’n saak van ontvoering en verkragting verbind word.

“Getuies beweer twee beamptes van die Moorreesburg-polisie het ’n vrou (27) van ’n plaas in die Swartland-omgewing ontvoer en daarna verkrag. Die klaer beweer dat die beamptes haar ’n rygeleentheid aangebied het. Die beamptes het glo kort daarna langs die pad gestop en haar na bewering daar verkrag,” brei Shuping uit. Hulle het die slagoffer daarna glo by ’n nabygeleë plaas in die Piketberg-omgewing afgelaai, waarna sy onmiddellik na die naaste polisiekantoor gegaan het om die voorval aan te meld. “ ’n Klagte van verkragting is teen die betrokke polisiebeamptes aangemeld,” verduidelik Shuping. Druk is onder meer uit verskeie oorde, waaronder die landelike-en-plaaswerkers- ontwikkelingsorganisasie, toegepas nadat die inligting dat niemand ná die voorval in hegtenis geneem is nie, onder hulle aandag gebring is. Volgens Billy Claasen, die organisasie se woordvoerder, het die organisasie ’n beroep op onder meer die minister van polisie en die nasionale kommissaris gedoen om op te tree sodat die betrokke beamptes vir hul dade verantwoordelik gehou kan word. Die verdagtes het Maandag (17 Februarie) in die Moorreesburg-landdroshof verskyn.

Die beamptes se ouderdomme kan in dié stadium nie deur die ondersoekdirektoraat bevestig word nie. Dit is ook onbekend vir hoe lank die beamptes in diens van die polisie is, nadat Opod ook nie die inligting tot sy beskikking gehad het nie. Die provinsiale polisiewoordvoerder AO Joseph Swartbooi het bevestig dat die polisie nie by magte is om enige inligting rakende beamptes wat van strafregtelike wangedrag aangekla en deur OPOD ondersoek word, te deel nie.

Intussen is die polisiekonstabel van Malmesbury, wat van aanranding met betrekking tot geslagsgeweld beskuldig word, steeds in aanhouding nadat sy formele borgtogaansoek op 5 Februarie misluk het. Die beskuldigde sal Donderdag (20 Februarie) in die plaaslike landdroshof van Malmesbury verskyn.

Die ondersoek teen nóg ’n beampte van die Riebeek-Wes-polisie, wat op sy beurt ook van verkragting aangekla word, duur steeds voort, het OPOD bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.