Dit is die jongste syfers soos bekend gemaak deur die provinsiale regering.
Gazette het verneem ’n ma van ’n informele nedersetting in Malmesbury en haar minderjarige kind is onder die twee jongste gevalle wat glo positief vir die virus getoets het en is intussen in ’n plaaslike gesondheidsfasiliteit in isolasie geplaas.
Swartland se munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, het in ’n kennisgewing op die munisipaliteit se Facebookblad gesê die persoon het glo vrylik rondbeweeg en daar is ook videomateriaal van ’n plaaslike kruidenierswinkel bekom waar hy aankope gedoen het.
“Ons is dankbaar teenoor die bestuur van die kettingwinkel wat onmiddellik en ferm opgetree het om sy deure tydelik te sluit ten einde die winkel te ontsmet,” het hy gesê.
“Nadat ons besef het dat dit moontlik ’n veiligheidsrisiko was, het ons ons deure gesluit en ons personeel aanbeveel om die nodige voorsorgmaatreëls te tref en ons het dadelik die owerhede in kennis gestel. Vanoggend (20 April) het die munisipaliteit en brandweer uitgekom om die buitekant van die winkel, parkeerplekke, openbare toilette, kantien en alle trollies te ontsmet waarna ons Sanitech Integrated Hygiene & Sanitation Solutions ingekry het om die hele winkel en sy inhoud te ontsmet,” lees die verklaring.
Die winkel het ook ’n toegewyde Covid-skoonmaakspan wat al om die uur gevaarpunte ontsmet. Die winkel is sedertdien weer vir handel oopgestel.
Tussen Woensdag 15 en Vrydag 17 April is altesaam 1 753 mense in hierdie gebiede gesif/gekeur waarvan altesaam 14 vir die virus getoets is. Wat die uitslag van die toetse was, is onbekend.
“Vandeesweek word daar beplan om verder in Phola Park te keur en toets (20-23 April) en dan Vrydag (24 April) elders in Illingelethu met die keuring en toetsing voort te gaan,” het sy gesê.
*Die eerste twee persone in die Swartland wat positief vir die Covid-19-virus getoets het – onderskeidelik van Darling en Moorreesburg – het intussen van die virus herstel. Hoewel die getal mense wat van die virus herstel, op nasionale en provinsiale vlak bekend gemaak word, word dit nie by die algehele infeksie telling in berekening gebring nie. Dus, al het twee van die vier persone in die Swartland wat die virus opgedoen het, reeds herstel, word dit nie afgetrek nie maar word nuwe infeksies bloot bygetel.