Twee mans is onlangs in die Malmesbury-streekshof elk tot 10 jaar tronkstraf gevonnis weens roof met verswarende omstandighede nadat hulle ’n man in Julie 2020 van geld en sy motorsleutels beroof het.
Volgens sers. Nicolette Visagie, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, was die klaer op 18 Julie 2020 om 10:05 op pad om geld en motorsleutels by iemand te gaan afgee toe hy in Swartlandstraat, Moorreesburg, deur twee mans, wat aan hom bekend is, voorgekeer is. Toe hy probeer vlug, het een van die mans hom gegryp. Een het ’n mes uitgehaal en die ander ’n skroewedraaier. Hulle het die klaer van R100 en die motorsleutels beroof. Hy het daarin geslaag om weg te hardloop en die polisie te ontbied.
Die twee mans, Ricardo Adams (33) en Niklaas Makatela (35), is kort daarna in hegtenis geneem en sedertdien skuldig bevind en gevonnis. Hulle was regdeur die verhoor in aanhouding.
Die ondersoekbeampte was speursersant Daneil Mentoor.