Een gevangene is steeds soek nadat drie mans Woensdagaand uit die Maksimum A- korrektiewe sentrum in Malmesbury ontsnap het. Inwoners is omstreeks 20:00 deur sirenes van die ontsnapping in kennis gestel.
Delekile Klaas, die streekskommissaris vir Korrektiewe Dienste, het vroeër gesê slegs een van die gevangenes is sowat twee uur ná die ontsnapping weer in hegtenis geneem.
Volgens Klaas het die drie mans, wat saam in ’n tronksel was, omstreeks 19:15 ontsnap nadat hulle die deur oopgekry en toegang tot die gevangenis se dak verkry het, vanwaar hulle te voet gevlug het.
’n Gesamentlike soektog is kort ná die ontsnapping van stapel gestuur, wat sal voortduur totdat die oorblywende oortreder gevang word. Die plaaslike polisie het Malmesbury Veiligheid gevra om met die soektog te help. Volgens Uys van der Westhuijzen van Malmesbury Veiligheid, wat gebeurlikheidsplanne gevolg het, was die plaaslike polisie, verskeie wetstoepassingsagentskappe, inwoners, lede van die landbougemeenskap, sekuriteitsmaatskappye en korrektiewe dienste betrokke by die soektog, wat uiteindelik tot die eerste inhegtenisneming gelei het. Die dorp was volgens omstanders in rep en roer soos polisiesirenes weergalm het en inwoners in hul voertuie geklim het om na die ontsnaptes te help soek. “Groot getalle was betrokke, waarvoor ons baie dankbaar is,” sê Van der Westhuijzen. “Ek wil almal wat Woensdagaand kom help het, namens Malmesbury Veiligheid bedank,” voeg hy by.
Twee ontsnaptes was teen Donderdag nog soek. Nog een is egter oor die Paasnaweek aangekeer maar die derde ontsnapte Juneal Jacobs, wat weens moord aangehou is, was teen Dinsdagoggend nog op vrye voet. Korrektiewe Dienste het vroeër in ‘n verklaring gesê die inhegtenisneming van die ontsnaptes is noodsaaklik en “net ’n kwessie van tyd”.
Die presiese omstandighede rakende die ontsnapping is in hierdie stadium nog onduidelik. Die departement het met ’n ondersoek begin, wat sal lei tot die nodige stappe hangende die uitkoms van die verslag. Die departement het ’n beroep op die publiek gedoen om na vore te kom indien enige inligting rakende die ontsnaptes opduik, wat tot ’n spoedige inhegtenisneming van die voortvlugtiges asook enige ander oortreders buite sal lei. Die departement het die publiek verder verseker dat “ ’n veilige en stabiele korrektiewe fasiliteit” steeds ’n prioriteit bly om misdadigers agter tralies te hou.
Sers. Henry du Randt, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het die ontsnapping bevestig en gesê ’n grootskaalse soektog na die ontsnaptes is van stapel gestuur.
Altesaam 68 gevangenes het in 2020 uit die Malmesbury-gevangenis (Medium B) ontsnap, hoewel almal binne 76 uur vasgekeer en in hegtenis geneem is.