Soms, net mooi wanneer ’n mens nou al tot kokens toe sat is vir al die negatiewe goed wat jy lees of waarvan jy hoor, gebeur iets wat soos ’n vars briesie deur jou gemoed kom waai.
Ons vergeet soms ’n mens se brein werk nes die van ’n rekenaar: Garbage in, garbage out. Voer jy gedurig jou brein met die negatiewe goed soos verkragting, moord, korrupsie en dieremishandeling, is die resultaat ’n donker gemoed. Dan wil ’n mens jou kop in die sand steek en sê laat gods water nou maar oor gods akker loop.
Die ongeluk is ons is al so gewoond aan al hierdie slegte goed wat mense laat gebeur, dat ’n mens skoon afgestomp raak. Blaai jy deur ‘n nuusblad met opskrifte soos “Pa verkrag meisie (10)”, “Dokter het vrou vermoor, sê hof”, “Miljoene verdwyn by Eskom” en “Hondegevegte neem toe, sê DBV”, dan dink jy onwillekeurig, ag wat, alweer nog ’n verkragting, alweer nog ’n moord, nog korrupsie, nog dieremishandeling, blaai maar verby. Dis tog al so afgesaag.
Soveel so dat ’n mens wonder of dit hoegenaamd nog nuus is. Redakteurs sou, as hulle wou, hele nuusblaaie net met misdaadnuus kon vul. Maar wie gaan dan die koerante koop of lees? Vergewe my maar, maar al wat nog my aandag trek, is berigte oor dieremishandeling of die mishandeling van bejaardes. Maar dis ek, ander mense lees dit nie eens nie.
Maar hoor nou net hierdie twee pragtige verhale:
Drie seuntjies van onderskeidelik 9, 10 en 11 jaar stap in die straat. Die seun van 11 het sopas ’n babahondjie present gekry. Hulle stap kafee toe en die verkeer is druk. Die hondjie besluit om die straat oor te steek en hardloop onder ’n motor in. Hy is erg beseer. Wat nou?
Die kinders besef hulle moet nou dringend die hond by ’n veearts kry, maar hoe weet hulle nie. Hulle weet wel hy lewe nog. Hulle sien doer lê ’n ou babastoeltjie wat vir ’n motor bedoel is en laai die hond daarin. Nou skuifel-skuifel hulle maar so teen ’n kreeftegang aan na die DBV.
Hulle sit later die stoeltjie met die hond neer. Dis warm, dis ver en hulle is dors. Ná 2 km kom hulle by die DBV, wat dadelik die hondjie ondersoek en behandel. Die hondjie word geopereer, maar sal oorleef. Toe eers bars die seuntjie van 11 jaar in trane uit. Sy vol gemoed kon net nie meer die skok onderdruk nie.
In ’n ander geval wen ’n seun ’n bietjie geld in ’n kompetisie. Maar hy weet sy maatjie het nie skoolskoene nie en hy sien daagliks hoe trap hy in die dorings. En toe besluit hy om sy hele prysgeld aan sy maatjie te skenk om skoolskoene te koop.
Toe ek die twee verhale hoor, gee dit my sommer nuwe moed en vertroue in die mensdom. Alles is darem nie net negatief nie, hoewel dit gewoonlik is wat ons gevoer word. So ek sê hou verby die negatiewe, ons het immers ’n keuse.